South Africa
‘Matriek is eintlik die wegspringpunt’─── KAREN VAN DER BERG 15:11 Thu, 16 Jan 2025
Dit is ’n groot week vir die matriekklas van 2024 waarin baie toekomsbesluite geneem en gefinaliseer moet word. Diegene wat steeds geen plan het vir hulle loopbane nie, kan moed skep. Daar is steeds planne om te maak.
Luidens ’n verklaring van Solidariteit wag daar ’n blink toekoms vir die leerlinge wat van voorneme is om ná skool aan te hou leer en wat hul vaardighede voortdurend wil opskerp.
“Hierdie jaargroep, wat die skoolbanke met ’n uitsonderlik hoë slaagsyfer van 87,3% groet, word in die Skoolverlatersverslag, wat in November 2024 deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) in samewerking met Solidariteite se Skoliere-aanbod vrygestel is, as ’n veerkragtige groep beskryf wat doelgerig planne kan maak om uitdagings te oorbrug.”
‘Matriek was nie die einddoel nie’
Johnell Prinsloo, onderwysnavorser van die SNI, sê terwyl daar trots is op die prestasies bly dit belangrik dat leerders besef matriek was nie die einddoel nie.
“Dit is in werklikheid die wegspringpunt en hulle matrieksertifikaat is hulle paspoort. Of hulle nou dadelik gaan studeer, eers ’n oorbruggingkursus wil gaan doen, of reeds werk en opleiding dáár gaan ontvang, is hierdie sertifikaat een wat hulle eintlik in staat stel om die toekoms met albei hande te kan aangryp.”
Voorts sê sy ten spyte daarvan dat 36% van 2024 se matrikulante aangedui het dat die Covid-19-pandemie ’n negatiewe effek op hulle akademiese en beroepsvooruitsigte gehad het, is dit ook verblydend om uit die studie te sien hoe hulle doelgerig planne kan maak om uitdagings te oorkom om sodoende hulle doel te bereik.
‘Kommerwekkend dat leerders nie van opsies bewus is nie’
Prinsloo sê dit voorspel ook ’n goeie toekoms vir hierdie matrikulante. “Dit is geensins maklik om studies te finansier nie, maar daar is verskeie studiehulp-opsies. Dit is kommerwekkend dat leerders nie van hierdie opsies bewus is nie.”
Sy sê leerders wat voel dat hulle gebrekkige prestasie in matriek hulle gaan terughou moet ook nie moed opgee nie.
“Oorbruggingskursusse kan hulle weer op koers kry sodat hulle steeds die studierigting of loopbaan van hul keuse kan volg. Daar is altyd ’n uitweg. Gaan leer, werk hard, leer dan nóg verder en moenie opgee nie.”