On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

South Africa

Matriekuitslae: Klas van 2024 ‘se blomme selfs helderder’

───   20:41 Mon, 13 Jan 2025

Matriekuitslae: Klas van 2024 ‘se blomme selfs helderder’ | News Article
“Die veerkragtigheid van die Klas van 2024 weerspieël dié van die protea.” Foto: X

Suid-Afrika het die hoogste matriekslaagsyfer sedert die ontstaan van ons land se demokrasie behaal en alle provinsies se slaagsyfers is bo 84%.

Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys, het die uitslae van die nasionale senior sertifikaat-eksamen Maandagaand (13/1) op ’n geleentheid bevestig.

Die nasionale slaagsyfer vir die matriekeksamen het van 82,9% in 2023 tot 87,3% in 2024 toegeneem – “die hoogste matriekslaagsyfer in ons demokratiese land se geskiedenis, wat ’n oomblik van groot trots en feesviering vir ons almal behoort te wees”, sê Gwarube.

Nasionale Slaagsyfer van 2019–2024:

  • 2024 - 87,3%
  • 2023 - 82,9%
  • 2022 - 80,1%
  • 2021 - 76,4%
  • 2020 - 76,2%
  • 2019 - 81,3%

Gwarube sê die veerkragtigheid van die klas van 2024 weerspieël dié van die protea, Suid-Afrika se nasionale blom – ’n simbool van vernuwing en krag.

“Die protea floreer in teëspoed met sy houtagtige saadkegels en wortels wat ontwerp is om veldbrande te oorleef. Nadat die vlamme van veldbrande verby is, word voedingsryke as agtergelaat om die grond te voed. Dit veroorsaak ook die vrystelling van sade wat proteas vernuwe, waarna hulle selfs helderder as voorheen blom.


“Net so is die matriekklas van 2024 deur geweldige uitdagings in die gesig gestaar. Covid-19 het hul leeromgewing ontwrig, die veranderende begrotingsdruk is deur verskeie provinsiale departemente en skole gevoel. Daar was ander maatskaplike euwels soos geweld, bendebedrywighede en die nuwe neiging van beskermingsfooie wat rampokkers eis wat ons skole terroriseer.”

Hierdie groep leerders het in 2020 gr. 8 betree om hul hoërskoolreis te begin, net om ontwrig te word toe Covid-19 hul wêreld, en onderwys spesifiek, verlam het. Hierdie groep se kurrikulum moes byvoorbeeld verkort word.

“Ongeveer 97% van die leerders wat in 2024 vir gr. 12 ingeskryf het, het uiteindelik die eindeksamen in 2024 geskryf. Soos die protea, lyk dit of die klas van 2024 krag uit teëspoed geput het, asof hulle meer vasbeslote was en gereed was om te floreer. Dit bewys dat uit moeilikste toestande, grootheid kan blom.”

Gwarube  sê dit is moontlik gemaak deur die gesamentlike pogings van die nasionale departement, provinsiale departemente, distrikspanne, skole, opvoeders en ouers – en natuurlik die leerders self. Sommige van die sleutelinisiatiewe wat deur die departement gedryf is, het verpersoonlikte leerintervensies, bykomende onderrigondersteuning en sosio-emosionele sorg ingesluit. 

Om nog ondersteuning te bied, het provinsies ekstra aangesig-tot-aangesig onderrigsessies, Saterdag-inhaalprogramme en verlengde skoolure ingestel om voldoende hersiening in sleutelvakke te verseker. Hierdie inisiatiewe was gerig op leerders wat gesukkel het met die kurrikuluminhoud as gevolg van vroeëre ontwrigtings, met die klem op sleutelvakke.

“In 2024 het ons gesien hoe die getal voltydse kandidate wat die matriekeksamen skryf, toegeneem het van 691 160 in 2023, tot 705 291 in 2024. Ons het ook gesien hoe die getal leerders met spesiale onderwysbehoeftes wat hierdie eksamen afgelê het, toegeneem het van 5 288 in 2023 tot 6 470 in 2024.

“Ons kan nie die trajek van Suid-Afrika of ongelykhede verander nie, tensy ons seker maak dat onderwys die hoeksteen is van alles wat ons doen.

“Die ongelykheid in Suid-Afrika sal voortduur tensy jy met kwaliteit in jou hand uitstap, en daarom sal ons seker maak dat ons dag en nag werk om seker te maak dat elke leerder wat deur ons stelsel gaan, uitstap met beter potensiaal vir hul toekoms.”

OFM Nuus/Corné Greyvenstein

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.