On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

International

Mosambiekse opposisieleier keer terug ondanks ballingskap

───   06:00 Tue, 07 Jan 2025

Mosambiekse opposisieleier keer terug ondanks ballingskap | News Article
Mosambiek se opposisieleier Venâncio Mondlane. Foto: Club of Mozambique/Lusa

Die Mosambiekse opposisieleier, wat al weke lank in ballingskap is vanwaar hy ’n beroep doen op ’n nuwe vlaag betogings, het gesê hy sal Donderdag na die land terugkeer.

Venâncio Mondlane vra pres. Cyril Ramaphosa moet die ANC se standpunt te hersien, berig Daily Maverick, om te verhoed dat die krisis vererger terwyl hy voorberei op hernude betogings. 

Mondlane sê hy sal voor die beëdiging van die nuwe president opdaag. Daniel Chapo van die regerende Frelimo-party moet volgende Woensdag ingehuldig word nadat ’n hof sy verkiesingsoorwinning bevestig het.

Mondlane, die naaswenner, verwerp die verkiesingsuitslag. Dit het tot gewelddadige betogings gelei waarin tientalle sedert Oktober dood is.

Mondlane het Mosambiek dieselfde maand verlaat en gesê hy vrees vir sy lewe nadat twee van sy assistente doodgeskiet is.

In ’n regstreekse Facebook-boodskap het hy Sondag (5/1) ’n uitdagende boodskap aan die owerheid gerig en gesê hy “sal in Maputo wees. Hulle hoef my nie meer te jaag nie.”

Hy sê hy sal Donderdag om 08:05 op die internasionale lughawe in Maputo aankom, berig die BBC. Hy doen ’n beroep op mense om hom daar te verwelkom.

“As julle my broers doodmaak … sal ek daar wees. Julle kan doen wat julle wil. As julle my wil vermoor, vermoor my. As julle my wil in hegtenis neem, neem my in hegtenis. Ek sal daar wees,” beloof hy.

Mondlane hou vol dat hy die verkiesing gewen het en hits betogings aan totdat die “verkiesingswaarheid” seëvier. Sy ondersteuners eis ’n einde aan die 49 jaar lange bewind van Frelimo.

Hy het voorheen gesê hy sal homself op 15 Januarie – wanneer die president ingehuldig word – as president aanstel ten spyte daarvan dat die hof sy mededinger se oorwinning bekragtig het.

‘Stemmery was gebrekkig’

Die verkiesingskommissie het Chapo aanvanklik tot die wenner van die verkiesing verklaar met 71% van die stemme, vergeleke met Mondlane se 20%. Die finale amptelike uitslag van die Grondwethof twee weke gelede het Chapo 65% en Mondlane 24% gegee.

Internasionale verkiesingswaarnemers het voorheen gesê die stemmery was gebrekkig, wat dui op aangepaste syfers en ander onreëlmatighede tydens die tellery.

Veiligheidsmagte het probeer om die landwye betogings te beëindig in ’n gewelddadige onderdrukking wat die land se stabiliteit op die proef gestel het. Volgens burgerregtegroepe is meer as 270 mense dood, onder wie betogers, kinders en lede van die veiligheidsmagte.

1 Januarie 2025 

Die onrus raak ook die ekonomie. Meer as 12 000 mense het reeds hul werk verloor en meer as 500 maatskappye is gevandaliseer.

Buurlande word ook deur die politieke onrus geaffakteer met dié dat duisende Mosambiekers oor die grens gevlug het.

Die uittredende president, Filipe Nyusi, het in die verlede ’n beroep gedoen op samesprekinge om die geskil te besleg. Chapo het op 27 Desember ’n beroep teen geweld en vir eenheid gedoen.

Mondlane het gesê hy is teleurgesteld in Ramaphosa, wat Chapo gelukgewens het met sy oorwinning nog voor die Grondwetlike Raad se uitspraak.

Hy het gesê dit lyk asof Suid-Afrika se reaksie meer toegespits is op die versterking van Mosambiek se veiligheidsreaksie op betogings as op die haglike menslike situasie in die land.

Mufamadi vergader nie met opposisieleiers

Ramaphosa se gesant, Sydney Mufamadi, het Mosambiek besoek, maar kon nie opdaag vir ’n vergadering met opposisieleiers in Maputo wat vier uur op sy aankoms gewag het nie, volgens mede-opposisieleier Lutero Simango van die Demokratiese Beweging van Mosambiek.

Mondlane sê: “Die kontak wat ek (met die Suid-Afrikaanse regering) het, was alles informeel en het niks wesenliks opgelewer nie. Ek sê vir hulle dat dit ’n groot geleentheid is vir SA – as die grootste en sterkste ekonomie in Suider-Afrika – om ’n streeksinisiatief van bemiddeling te lei.”

Maar “ongelukkig voel ek meer betrokkenheid van ander streke soos die EU, die VSA en die Vatikaan. Hulle is baie betrokke om die situasie te verander.”

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.