South Africa
Vermeende mandraxsmouse in Noord-Kaap in aanhouding─── 09:20 Thu, 09 Jan 2025
Vyf verdagtes wat na bewering met ’n groot hoeveelheid mandraxtablette op die N8 in die Noord-Kaap betrap is, kom na verwagting Vrydag (10/1) vir die eerste keer voor in Kimberley se landdroshof.
Iemand het die multidissiplinêre spanne, wat deel uitmaak van Operasie Vala Umgodi, Maandag (6/1) laat weet van ’n voertuig wat na bewering met dwelms op die N8 tussen Kimberley en Schmidtsdrift onder weg was, sê sers. Molefi Shemane, provinsiale polisiewoordvoerder.
Nadat wetstoepassers ontplooi is en die voertuig gewaar het wat in Kimberley se rigting op pad was, het hulle dit deursoek en na bewering op ’n groot hoeveelheid mandraxtablette afgekom. Al vyf insittendes, twee vroue (albei 29) en drie mans (33, 36 en 42), is in hegtenis geneem weens die besit van dwelms.
Die verdagtes se voertuig was in Kimberley se rigting op pad. Foto verskaf
Beamptes het beslag gelê op dwelms met ’n geskatte waarde van R10 000, ’n selfoon, sowel as die voertuig ter waarde van sowat R200 000, sê Shemane. Die vyf bly in polisieaanhouding tot hul eerste hofverskyning.
“Die polisie bly verbind tot die stryd teen onwettige (dwelms) en verwante misdaad en spoor die gemeenskap aan om misdaad by Stop Misdaad (08600 10111) aan te meld,” sê hy, en voeg by alle inligting sal vertroulik hanteer word.
Sers. Molefi Shemane, provinsiale polisiewoordvoerder. Foto verskaf
Die polisie beloof wetstoepassers sal aanhou om die staat se gesag af te dwing in die Frances Baard-distrik en elders in die Noord-Kaap met ontwrigtende optredes ingevolge Operasie Vala Umgodi.
In ’n onverwante voorval einde verlede jaar op die N1 suid van Beaufort-Wes het ’n vermeende dwelmhandelaar sy rieme styf geloop toe hy aangekeer is met 253 pakkies khat.
Die polisie het die 24-jarige omstreeks 07:00 op Kersoggend naby Prins Albertweg aangekeer. Dié nasionale pad was een van die toegangsroetes na die Wes-Kaap waarop wetstoepassers strategies ontplooi is om misdaad tydens die Kerstyd te bekamp, het sers. Christopher Spies, provinsiale polisiewoordvoerder, gesê.
Passasier op minibus
Beamptes van Sentraal-Karoo en Prins Albert het vroeg die oggend voertuie nagegaan, waaronder ’n Toyota Quantum-minibus. Hulle het op twee reissakke afgekom met nagenoeg R25 000 se khat daarin.
“Die dwelms is verbind met ’n passasier op die minibus wat gevolglik in hegtenis geneem is vir dwelmhandel. Hy was … op reis na Kaapstad,” het Spies gesê. Die verdagte word in die landdroshof op Prins Albert verhoor.
OFM Nuus cg