International
Gewese Egoli-aktrise se Los Angeles-huis brand af─── 13:56 Fri, 10 Jan 2025
’n Suid-Afrikaanse aktrise wat naam gemaak as Tarien in die M-Net-sepie Egoli, maar reeds dekades in Los Angeles woon, se huis in die gegoede buurt The Hills was van die eerste wat in vlamme opgegaan het tydens verwoestende veldbrande.
“Ons het alles verloor,” sê Christel Smith in ’n Facebook-plasing. “Gelukkig kon ons ons diere red. Ons huis is afgesper en ons kon nog nie teruggaan om te kyk wat gered kon word nie. Al my Egoli-memorabilia en foto’s het verbrand.”
Smith sê sy het besittings en gedenkwaardighede van haar oorlede kollega Esta TerBlanche by haar geberg om dit vir haar pa en broers te gee. “Nou is dit ook alles verbrand.”
TerBlanche, ’n boorling van Rustenburg in Noordwes, het haar suster, Bienkie, in Egoli gespeel en destyds in Smith se spore na Hollywood gevolg. Sy is op 19 Julie in die ouderdom van 51 jaar oorlede.
Die winkel, biblioteek en skool in hul omgewing het ook afgebrand. “Alles is so surrealisties; dit lyk soos Armageddon.”
Sy vertel vriende het aangebied dat sy en haar man, Edward Durkin en hul seun, Eddie (13), by hulle kan bly.
Talle aanhangers op Facebook het met Smith gesimpatiseer en gesê hulle bid in dié moeilike tyd vir haar, haar gesin en almal wat deur die verwoestende brande getref is en wat alles verloor het, asook die slagoffers se naasbestaandes.
Die Los Angeles Times berig tien mense het reeds in die verwoestende brande omgekom. Meer as 9 000 geboue is beskadig of in puin gelê, terwyl minstens 130 000 inwoners beveel is om te ontruim.
Kenners sê die brande is waarskynlik die duurste veldbrandramp in die Amerikaanse geskiedenis.
Aandklokreël aangekondig
Brandspanne word herhaaldelik belemmer deur lae waterdruk en brandkrane wat opdroog. “Los Angeles se watervoorsieningstelsels is nie vir veldbrande op hierdie skaal gebou nie,” meen ’n kenner.
Robert Luna, Los Angeles se distriksbalju, het Donderdag (9/1) verskeie maatreëls aangekondig, waaronder ’n aandklokreel, om veiligheid op te skerp. Meer as 20 mense is die laaste paar dae vir plundering in hegtenis geneem.