On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

South Africa

Matriekuitslae van 2024 na bewering vooraf verkoop

───   17:58 Mon, 13 Jan 2025

Matriekuitslae van 2024 na bewering vooraf verkoop | News Article
Die verkoop van matriekuitslae word ondersoek. Foto: Facebook

’n Ondersoek is van stapel gestuur om vas te stel of daar ’n oortreding was in die voortydige bekendmaking van 2024 se nasionale matriekuitslae.

Gerugte doen die ronde dat matrikulante teen R100 elk hul individuele uitslae kan koop voor die amptelike en gratis bekendstelling daarvan deur die departement van basiese onderwys Dinsdagoggend (14/1).

Siviwe Gwarube, minister van onderwys, het Maandag (13/1) bevestig dat die Valke en Staatsveiligheid (SSA) betrokke geraak het, aangesien hulle vermoed dat die departement die slagoffer van kubermisdaad is.

Die aankondiging het gekom enkele minute voordat Gwarube die land se toppresteerders sou vereer en die amptelike bekendmaking van die resultate deur Umalusi, die Gehalteraad vir Algemene en Verdere Onderwys en Opleiding in Suid-Afrika.

Gwarube het gesê dit het aan die lig gekom dat ’n platform geskep is waar “outentieke matriekuitslae” aan leerders verkoop word. “Hulle het onskuldige leerders geteiken en hul geld gesteel.”

Die departement van basiese onderwys (DBO) se stilswye die afgelope 48 uur was omdat die Valke se ondersoek in ’n sensitiewe stadium was.


Ondanks dié moontlike oortreding het Gwarube die versekering gegee dat dit geensins die integriteit van die uitslae beïnvloed nie. “Ek wil Suid-Afrikaners verseker dat die amptelike resultate van enige manipulasie geïsoleer is.

“Watter oortreding ook al gebeur het, het gebeur aan die einde van die geverifieerde resultate.

“Ons neem dit baie ernstig op en ons wil hê iemand moet in hegtenis geneem word daarvoor. Ons is vol vertroue dat wetstoepassingsagentskappe vinnig te werk gaan om seker te maak dit word gedoen,” het sy gesê.


Om vas te stel of die DBO se stelsels veilig en voldoende is, is deel van die ondersoek. Sodra die ondersoek voltooi is, moet dit met sekere belanghebbendes gedeel word sodat hulle met hul eie prosesse kan begin. “Daar is ’n werklike moontlikheid dat daar dalk ’n verbreking met daardie proses was.

“As die oortreding aan die kant van die DBE was, sal daar gevolge wees,” het Gwarube bevestig.

Umalusi het daarna die klas van 2024 gelukgewens wat in hul matriekeksamen geslaag het.

Hierdie raad vir gehalteversekering in algemene en verdere onderwys en opleiding in Suid-Afrika “is uiters bly dat daar geen gevalle van papierlekkasies of ander onreëlmatighede opgespoor is wat die algehele geloofwaardigheid en integriteit van die eksamens kon benadeel het nie”.

Prof. Yunus Ballim, Umalusi-voorsitter, het ook sy waardering aan onderwysers, ouers, voogde en almal uitgespreek wat die leerders gedurende hul reis ondersteun het. Umalusi het alle rolspelers bedank dat hulle die klas van 2024 tot by hierdie belangrike dag gelei het.

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.