On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

International

Vyf sterf, beroemdes se huise verwoes in Los Angeles-vuurhel

───   14:41 Thu, 09 Jan 2025

Vyf sterf, beroemdes se huise verwoes in Los Angeles-vuurhel | News Article
Foto: Facebook/Helder Guimaraes

Die verwoestende veldbrande wat sedert Dinsdag (7/1) woed in Los Angeles, Kalifornië, het duisende huise verwoes, waaronder dié van Hollywood-beroemdes. Die dodetal staan op vyf.

Paris Hilton, Billy Crystal, Anna Faris, John Goodman, James Woods, Eugene Levy, Anthony Hopkins, Mark Hamill, Adam Brody en Heidi Montag is op die lys van bekendes wie se woonplek in die slag gebly het.

Meer as 130 000 mense het al sedert Dinsdag hul huis ontruim.

Die akteur James Woods, wat in rolprente soos Nixon en Casino gespeel het, het op CNN in trane uitgebars toe hy beskryf hoe hy sy eiendom in die spogbuurt Pacific Palisades-woonbuurt verloor het. “Die een dag swem jy in die swembad, en die volgende dag is alles weg.”

Foto: X/@nofiltersnick

Billy Crystal het in ’n verklaring gesê hy en sy vrou, Janice, is “verpletter” deur die verlies van hul Pacific Palisades-huis waar hulle sedert 1979 woon. “Ons het ons kinders en kleinkinders hier grootgemaak. Elke sentimeter van ons huis was gevul met liefde. Ons is hartseer, maar met die liefde van ons kinders en vriende sal ons dit oorkom.”

Sterre soos Jennifer Aniston, Bradley Cooper, Tom Hanks, Reese Witherspoon, Adam Sandler en Michael Keaton het ook ’n woning in Pacific Palisades, ’n woonbuurt met sowat 23 000 inwoners, 32 km wes van Los Angeles se middestad.

Paris Hilton beskryf op Instagram hoe sy tydens ’n regstreekse nuusuitsending op TV moes aanskou hoe haar huis in Malibu in vlamme opgaan. “Dit is iets wat niemand ooit moet ervaar nie,” meen sy.

Foto: Facebook/Lisa Breckenridge

Miles Teller, veral bekend vir sy rol in Top Gun: Maverick, en sy vrou, Keleigh Sperry, het ook hul huis in die Pacific Palisades verloor. Sperry het op sosiale media gevra dat mense bakke water neersit vir diere wat agterbly terwyl hul eienaars padgee.

David Acuna, Kalifornië se brandweerhoof, het aan die BBC gesê “geen vordering” word gemaak om die vlamme te bestry nie. Sterk winde van 95–160 km/h en droë toestande hits die brande aan met geen verligting in sig nie.

’n Brand wat Woensdagaand (8/1) in Hollywood Hills ontstaan het, was op pad na die beroemde Hollywood-teken. Sosiale media wys hoe mense T-hemde oor hulle gesig trek om hulle te help asemhaal, terwyl ander – duidelik verras deur die vlamme – net slaapklere dra. Baie het tasse en sakke.


Strate is stampvol motors soos motoriste in alle rigtings probeer wegkom. ’n Foto wys die akteur Ben Affleck, vasgevang in ’n verkeersknoop, met ’n uitdrukking van ongeloof op sy gesig. Hy het net ses maande gelede ’n herehuis in die 104 jaar oue Pacific Palisades gekoop.

Luidens berigte word prins Harry en Meghan Markle se huis in Montecito ook bedreig. Na gelang van die koers wat die vlamme inslaan, kan hulle ook gedwing word om hul woning te ontruim.

Melissa Rivers, dogter van wyle komediant Joan Rivers, het ook haar huis verloor. “Ek smeek mense om die pad te vat sodra jy die kennisgewing kry om jou omgewing te ontruim,” het sy aan CNN gesê. “Moenie met ’n tuinslang op jou dak staan nie, dit help niks.”

Rivers sê sy het net genoeg tyd gehad om paspoorte en belangrike dokumente te gryp. “Ek het my ma se Emmy-toekenning, ’n foto van my pa en ’n skets wat my ma gemaak het. My hart is so stukkend, nie net vir myself nie, maar om deur hierdie dorp te gaan … dis uitgewis.”

Die sangeres en This Is Us-aktrise Mandy Moore sê sy is dankbaar sy en haar gesin en troeteldiere kon betyds hul huis ontruim voordat dit afgebrand het. “Eindeloos dankbaar vir vriende wat ons ingeneem en vir ons klere en komberse gebring het.

“Ek is geskok en voel afgestomp oor alles wat verlore is. My kinders se skool is weg. Ons gunsteling-restaurante is gelyk met die grond. Soveel vriende en geliefdes het alles verloor. Ons gemeenskap is stukkend, maar ons sal hier wees om saam te herbou.”

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.