On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

South Africa

Borgtog vir vroue wat bejaardes met tee bedwelm, beroof

───   11:24 Mon, 13 Jan 2025

Borgtog vir vroue wat bejaardes met tee bedwelm, beroof | News Article
Indrani Moodley en Rushendree Reddy tydens hul inhegtenisneming. Foto verskaf

Twee vroue wat op 11 November verlede jaar deur lede van Reaction Unit South Africa (Rusa) in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem is, is verlede week borgtog toegestaan.

Hulle was vir 58 dae in aanhouding. Rushendree Reddy (39) en Indrani Moodley (49) is in hegtenis geneem nadat hulle ’n man (75) van Verulam tee wat glo ’n sterk dosis kalmeermiddels bevat het, gegee het. Hy het na bewering sy bewussyn verloor waarna hulle hom glo van waardevolle besittings beroof het.

Volgens berigte word die vroue glo ook verbind met verskeie soortgelyke voorvalle in die provinsie waartydens bejaarde slagoffers met dieselfde modus operandi geteiken en beroof word. Hulle word ook aangekla van huisroof. 

Reddy is voorheen op ’n soortgelyke aanklag skuldig bevind. Sy is ’n vonnis van tien jaar tronkstraf opgelê wat geheel en al vir vyf jaar opgeskort is.

Die hof het haar ook beveel om die slagoffer met R2 miljoen te vergoed, berig Durban Local. Haar medebeskuldigde dien tans 'n lang tronkstraf uit.

‘Sy was nog in haar slaapklere geklee’  

Reddy is in November 2024 deur veiligheidswagte by haar huis in Montford in Chatsworth opgespoor. Sy het vir sowat ’n uur aan haar seun vasgeklou om nie in hegtenis geneem te word, maar het uiteindelik haarself oorgee. Sy was nog in haar slaapklere geklee toe sy geboei is.

Moodley is by haar huis in Sunford in Phoenix in hegtenis geneem. Volgens ’n polisieverklaring was sy dronk ten tyde van haar inhegtenisneming.

Destyds is berig die twee vroue het by die bejaarde man se huis ingegaan en gevra of hulle vir hom ’n koppie tee kon maak. Die man het ingestem en die tee gedrink. Hy het later sy bewussyn verloor en toe hy wakker word ontdek dat sy huis geplunder is. Die vroue was nêrens te vinde nie.

‘Hulle blameer mekaar vir die misdaad’

Kringtelevisiekameras het gewys hoe die vroue met gesigsmaskers die Verulam-omgewing verlaat. Video’s van die twee vroue se inhegtenisneming wys hoe hulle mekaar vir die misdaad blameer en hoe een van die veiligheidswagte vir haar  ’n sari aanbied om aan te trek. 

Die verdagtes se gesinslede het later selfone, skootrekenaars en ander waardevolle items wat tydens die rooftog geneem is, by die polisie ingegee.

Reddy is borgtog van R10 000 toegestaan en Moodley borgtog van R5 000. Dit is onduidelik wanneer hulle weer in die hof moet verskyn.

OFM Nuus dg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.