On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

South Africa

Inwoners op hol oor honger slang en ‘krokodil’

───   12:23 Mon, 13 Jan 2025

Inwoners op hol oor honger slang en ‘krokodil’ | News Article
Rusa-veiligheidswagte met die luislang en die likkewaan wat inwoners op hol gehad het. Foto verskaf

’n Honger slang met ’n smaak vir eendevleis en ‘n krokodil wat toe eintlik net ‘n likkewaan was, het die afgelope paar dae inwoners in KwaZulu-Natal op hol gehad.

In die eerste voorval is ’n Suider-Afrikaanse luislang van ongeveer 1,5 m in Buffelsbaai gevang nadat hy aan ’n inwoner se twee eende weggelê het. ’n Veiligheidswag van Reaction Unit SA (Rusa) het versigtig die slang met sy lang lyf wat sommer boepens staan vanuit sy wegkruipplek gehaal.

Rusa het bevestig die slang is elders hervestig ver van plaaslike inwoners se pluimvee. Die Suider-Afrikaanse luislang is volgens Wikipedia vir die eerste keer in 1833 deur Andrew Smith beskryf. Met 'n volgroeide lengte van meer as 5 m is dit een van die grootste slange ter wêreld.

‘Krokodil toe al die tyd ’n likkewaan’

In die tweede geval het ’n inwoner van Hammonds Farm in die Verulam-omgewing alarm gemaak toe sy gesien het hoe ’n krokodil uit ’n stroom naby haar huis kom en aan die agterkant van haar huis gaan wegkruip het.

Veiligheidswagte van Rusa is ontbied en volgens die buurman se foto het hulle kon bepaal dat dit eintlik ’n jong likkewaan is. Die reptiel het intussen in ’n gat tussen twee mure verdwyn. Ná etlike ure se gesukkel om dit uit te haal, is ’n gedeelte van die muur afgebreek en is die likkewaan gevang. Rusa het bevestig dat die likkewaan veilig in die natuur vrygelaat is.

Op Facebook het mense gewonder hoe ’n krokodil met ’n likkewaan verwar kan word. “Ek gaan ’n busrit na Crocodile Creek reël vir daardie inwoner!” sê Sagran Govender.

“In ander nuus ... likkewaan wat met krokodil verwar word, is getraumatiseer en benodig nou berading,” is Hooblal Govender se pittige kommentaar, terwyl Shereen Naidoo die veiligheidswagte van Rusa bedank het: “Julle loop altyd daardie ekstra myl om mense veilig te hou. Vir julle gaan dit nie oor geld nie, maar oor vriendelikheid en deernis.”

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.