On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

South Africa

SA ontvoerings: Verskeie verdagtes binnekort weer in hof

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:07 Sun, 20 Oct 2024

SA ontvoerings: Verskeie verdagtes binnekort weer in hof | News Article
Foto: iStock

’n Man van Noordwes wat daarvan aangekla word dat hy sy pa ontvoer het, sal na verwagting weer Dinsdag (23/10) in die hof verskyn.

Edwin Monnakgotlha (35) sal die derde keer in die Mogwase-landdroshof op aanklag van ontvoering verskyn, sê kol. Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder.

“Die verdagte het aanvanklik Dinsdag (15/10) en Woensdag (16/10) in die hof verskyn voordat die saak vandeesweek vir sy borgtogaansoek uitgestel is.”

Volgens Myburgh is Monnakgotlha Maandag (14/10) in Chaneng buite Rustenburg in hegtenis geneem. “Die span bestaande uit Bojanala Sub-distrik 2 se speurders, Sun City sigbare polisiëring, en Rustenburg misdaadintelligensie het hom aangekeer nadat hy na bewering sy bejaarde pa Sondag (13/10) ontvoer het.”

Myburgh sê ’n saak van ontvoering is Sondag (13/10) by die Sun City-polisie aangemeld. “Ná die inhegtenisneming het twee mans wat hulself as Monnakgotlha se regsverteenwoordigers geïdentifiseer het, die slagoffer Maandag aan die ondersoekspan oorhandig. Die slagoffer is ongedeerd.”

‘Gesin is in twee voertuie gedwing’

Twee van die vier verdagtes wat na bewering ’n man (63), sy vrou (55) en hul drie kinders – onderskeidelik 38, 33 en 26 jaar –  Maandag (14/10) as gyselaar geneem het, sal ook vandeesweek in die Sasolburgse landdroshof verskyn.

“Vier verdagtes het die slagoffers aangehou deur hul hande vas te bind en hul koppe met kussingslope te bedek. Die gesin is in twee voertuie gedwing, waarvan een aan hulle behoort, en na ’n huis in Orange Farm, Gauteng, vervoer,” sê kapt. Lorraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder

Die verdagtes het ook ’n bedrag geld, hul selfone en hul bankrekeninge se PIN geëis. Daarna is ’n groot bedrag geld na hul rekening oorbetaal.”

Die twee verdagtes wat die gesinlede ontvoer het. Foto: SAPS

“Die polisie het aanvanklik gereageer op ’n klag van kinderverwaarlosing, maar met hul aankoms het hulle bewyse gekry wat dui op ’n huisroof en die ontvoering van die vyf familielede."

Verskeie polisie-eenhede insluitend die Fezile Dabi Distrik Trio Task Force, die Fezile Dabi Distrik-hoofwegpatrollie Relief C, Sasolburg misdaadintelligensie en Zamdela se speurders het vinnig gereageer. Leidrade is opgevolg en die gesin se voertuig is verlate in Drieziek, Orange Farm, gevind. Earle sê die ondersoeke duur voort en nog mense kan in hegtenis geneem word. 

OFM Nuus dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.