On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

International

SpaceX vier eerste suksesvolle landing van vuurpylversterker

───   11:56 Mon, 14 Oct 2024

SpaceX vier eerste suksesvolle landing van vuurpylversterker | News Article
SpaceX verwesenlik herbruikbare vuurpyle. Foto: X

Geopolitieke wedywering wakker ’n nuwe wêreldwye wedloop aan in die Aarde se wentelbaan en op die maan, terwyl die wêreld se ruimteagentskappe vandeesweek in die Italiaanse stad Milaan vergader.

Die privaat sektor is ten nouste betrokke by dié ruimteresies, maar sukkel om tred te hou met Elon Musk se oorheersende SpaceX-ontwikkelings.

SpaceX het juis Sondag (13/10) ’n groot mylpaal gevier toe sy Starship-vuurpyl se versterker of aanjaer (“rocket booster”) onbeskadig in ’n paar robotarms, sogenaamde Mechazilla, gevang is nadat dit teruggeval het na die lanseerplatform in die suide van Texas.

Dié prestasie, wat lof van ruimtevaarders en ruimtekundiges ontlok het, was die kersie op koek terwyl die vyfde suksesvolle toetsvlug van die onbemande Starship ook gevier is.

Die Starship-vuurpyl het Sondagoggend om 07:25 het van die Boca Chica-lanseerbasis opgestyg. Die vuurpyl se 71 m lange Super Heavy-versterker het sowat 65 km bo die Aarde van die Starship ontkoppel.

Die Starship het teen meer as 27 300 km/h sowat 140 km die ruimte in gevaar en om die Aarde gereis, voordat dit sowat 90 minute later ’n beheerde, beplande plonslanding in die Indiese Oseaan naby Wes-Australië uitgevoer het.

Die Super Heavy-versterker het intussen drie van sy enjins weer aangeskakel om sy val terug na SpaceX se lanseerbasis teë te werk en te beheer. Dit het onbeskadig terug in die omhelsende robotarms geland – die eerste praktiese demonstrasie van dié nuwe vanglandingsmetode. Dit is die jongste vooruitgang deur Spacex om herbruikbare vuurpyle te ontwikkel.

SpaceX-personeel het juigend hul sukses gevier. Dit is die eerste keer dat SpaceX dié gewaagde metode beproef, een wat hy as noodsaaklik beskou om mense, wetenskaplike toerusting en voorraad na die maan en verder na Mars te vervoer.

Dan Huot, SpaceX se kommunikasiebestuurder, het ná die skouspel bewerig gesê dit het soos toorkuns gelyk.

‘’n Dag vir die geskiedenisboeke’

“Dit is ’n dag vir die ingenieurs se geskiedenisboeke,” sê Kate Tice, ’n kwaliteitstelselingenieur by SpaceX-hoofkwartier in Hawthorne, Kalifornië, aan The Guardian gesê.

Die Internasionale Ruimtevaartkongres wat vandeesweek in Italië aangebied word, is volgens TimesLIVE sedert 1950 ’n plek vir die wetenskaplikes, ingenieurs, maatskappye en politieke leiers van ruimtevaartlande om samewerking te bespreek, selfs in tye van verhoogde spanning tussen wêreldmoondhede. SpaceX se herbruikbare vuurpyle sal sekerlik vandeesweek hoog op die besprekingsagenda wees.

OFM Nuus cg/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.