On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

South Africa

Lusikisiki-massamoorde: Vier verdagtes is aangekeer

───   08:56 Thu, 17 Oct 2024

Lusikisiki-massamoorde: Vier verdagtes is aangekeer | News Article
Altesaam 18 mense is in twee afsonderlike huise in die Ngobozana-dorpie in die Oos-Kaap doodgeskiet. Foto: SAUK

Die Oos-Kaapse LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid loof die polisie vir die inhegtenisneming van vier verdagtes in verband met die moorde op 18 mense in Lusikisiki.

Die verdagtes is Woensdag (16/10) op Port Shepstone aan KwaZulu-Natal se suidkus in hegtenis geneem. 

Xolile Nqatha betuig ook sy dankbaarheid teenoor die publiek vir die wenke wat tot die inhegtenisnemings gelei het, sê Makhaya Komisa, die LUR se woordvoerder.

“Nqatha meen die mense van KwaZulu-Natal en die res van die land slaak ’n sug van verligting dat dié vier mense in hegtenis geneem is. Hy glo dié inhegtenisnemings bied hoop vir die bedroefde gesinne aangesien hulle bitter graag die trauma sal wil verwerk nadat geregtigheid geskied het.”

Drie van die verdagtes het blyplek gehuur in die Mkholombe-gebied van Port Shepstone. Inwoners is geskok omdat drie van die vier Lusikisiki-moordverdagtes tussen hulle gewoon het.

Die Sinqina-familie is feitlik uitgewis in die massaskietery in Lusikisiki in die Oos-Kaap. Altesaam 18 mense is Saterdag (28/9) in die vroeë oggendure in twee afsonderlike huise op Ngobozana in die Oos-Kaap afgemaai.

Die oorledenes was aan die voorberei vir die grafsteenonthulling van twee familielede – nóg twee vroue wat verlede jaar in die gebied vermoor is. 

Blykbaar was een van die verdagtes op parool. Die motief vir die slagting is nog onbekend. Die polisieondersoek duur voort.

OFM Nuus cg/mc/dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.