On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Gerben
Listen Live Streams

International

Israel verskerp aanvalle op Iran-gesteunde militante groepe

───   06:14 Mon, 30 Sep 2024

Israel verskerp aanvalle op Iran-gesteunde militante groepe | News Article
Lugaanvalle is op Beiroet uitgevoer. Foto: X

“Die aanvalle wakker vrese van ’n oorlog in die Midde-Ooste aan.”

Lugaanvalle is Maandag (30/9) vroeg op Beiroet in Libanon uitgevoer ná ’n naweek van konflik op verskeie fronte in die Midde-Ooste.

Dodelike gevegte tussen Israel en Iran-gesteunde militante groepe het die afgelope paar weke toegeneem namate die Israeliese weermag sy aanvalle op Hezbollah in Libanon en die Houthi’s in Jemen uitgebrei het.

Dit wakker vrese van ’n oorlog in die streek aan nadat Hezbollah belowe het om voort te veg, selfs al verloor hy senior leiers, berig CNN.

‘Sal veg totdat die oorlog in Gasa eindig’

Saam met Hamas – wat Israel op 7 Oktober verlede jaar aangeval het – is Hezbollah en die Houthi’s deel van Iran se “Axis of Resistance”, ’n alliansie van Islamitiese militante wat oor Irak, Sirië, Libanon, Gasa en Jemen strek en Iran strategiese diepte teen sy vyande gee.

Ter ondersteuning van Hamas en Palestyne, het Hezbollah en die Houthi's die afgelope jaar gereeld aanvalle op Israel uitgevoer. Hulle het belowe om aan te hou veg totdat die oorlog in Gasa eindig.

Hezbollah se leier Hassan Nasrallah. Foto: X

Hier is die jongste:

  • Israeliese aanvalle in Libanon het Sondag meer as 100 mense dood gelaat en meer as 350 ander gewond. Die Israeliese weermag het gesê Hezbollah is onder meer in aanvalle deur vegvliegtuie, op sowat 45 teikens naby ’n dorpie in die suide van Libanon, aangeval.
  • Hezbollah se leierskapgetalle neem af. Minstens drie senior bevelvoerders se dood is Sondag bevestig, insluitend Nabil Qaouk, ’n seniorbevelvoerder en lid van Hezbollah se sentrale raad. Hassan Nasrallah, Hezbollah se leier, is Vrydag dood in ’n aanval op die groep se ondergrondse hoofkwartier, waar 20 Hezbollah-lede ook teenwoordig was, insluitend die hoof van Nasrallah se veiligheidseenheid.
  • Israel se weermag het ook volgens hulle op kragstasies en ’n hawe, wat deur die Houthi’s in Jemen gebruik is, toegeslaan. Minstens vier mense is dood en dosyne mense is gewond. Die Houthi’s, soos Hamas en Hezbollah, is onder die Iran-gesteunde militante groepe wat Israel die stryd aansê sedert die oorlog in Gasa begin het.

Libanon is ’n land wat oorlog maar te goed ken. En hulle is nie gretig vir meer nie. Die land dra steeds die letsels van die burgeroorlog tussen 1975 en 1990, en van die laaste oorlog tussen Hezbollah en Israel in 2006. Maar volgens die BBC voel sommige, insluitend Marwan Abboud, Beiroet se goewerneur, dat Israel se onlangse eskalasie reeds erger is.

In die afgelope tien dae is massas mense beseer as gevolg van plofbare stemtoestelle en roepradio's, ’n vlaag sluipmoordaanvalle is op Hezbollah se militêre bevelvoerders uitgevoer, daar was verwoestende lugaanvalle en “bunker-busting” bomme is in Beiroet gebruik om Nasrallah Vrydag (27/9) dood te maak.

“Dit is die ergste tye waardeur die land gaan,” sê Abboud, wat geen verbintenis met Hezbollah het nie. “Ek voel hartseer. Ek is geskok deur die groot aantal burgerlike ongevalle. Ek is ook geskok deur die stilte van die internasionale gemeenskap – asof dit wat hier gebeur niks beteken nie.”

OFM Nuus cg/dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.