On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

South Africa

Oranjeville: Omstandighede rondom bendelede se dood steeds onbekend

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:01 Fri, 18 Oct 2024

Oranjeville: Omstandighede rondom bendelede se dood steeds onbekend | News Article
Peter Jaggers en William (Billy) Petersen. Foto Facebook

Vrystaatse polisie ondersoek steeds die ontdekking van twee liggame in ’n vlak stroompie van die Wilgerrivier by Oranjeville.

Naasbestaandes het die vermiste Kaapse bendebaas Peter Jaggers (43) en een van sy makkers, William (Billy) Petersen, uitgeken nadat hul oorskot op Vrydag (11/10) ontdek is – byna drie maande ná hul verdwyning, sê kapt. Lorraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

Jaggers, vermeende leier van die Terrible Joster-bende in Bishop Lavis, en Petersen is laas lewend gesien op Sondag 30 Junie. Hulle het verdwyn kort nadat hulle aangemeld het vir ’n “sakebesoek” by die Emperors Palace-hotel in Kempton Park. Iemand het glo die mans tussen 23:00 en middernag kom oplaai.

Jaggers se vrou het hulle op 4 Julie by die Bishop Lavis-polisiekantoor as vermis aangemeld. Gerugte het die rondte gedoen lede van ’n Colombiaanse dwelmkartel het hulle ontvoer.

“Die twee mans se liggame is in dik plastiek toegedraai, met kettings vasgemaak en blykbaar aan dromme vol sand vasgemaak,” het Earle vroeër aan OFM Nuus gesê, blykbaar om te keer dat hul oorskot boontoe kom.

Die polisie vra enigiemand met inligting wat in die ondersoek kan help om speurkol. Ben Bolsiek by 082 466 8530 of Stop Misdaad by 08600 10111 te bel. Gebruik die MySAPS-app vir anonieme wenke.

Die Valke in Gauteng lei die voortgesette ondersoek.

OFM Nuus dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.