On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

International

Orkaan Milton eis minstens 16 lewens in Florida; miljoene sonder krag

───   16:00 Fri, 11 Oct 2024

Orkaan Milton eis minstens 16 lewens in Florida; miljoene sonder krag | News Article
Dié Amerikaanse staat het die vlak van katastrofiese verwoesting vrygespring wat amptenare gevrees het. Foto: X

Minstens 16 mense het gesterf toe orkaan Milton se tornado’s verwoesting oor Florida gesaai het terwyl dié Amerikaanse staat ook met oorstromings, kragonderbrekings en ander ontwrigtings te doen gehad het.

Talle het gevrees dat die storm katastrofies sou wees maar dit was meer gematig as wat verwag is.

Die orkaan het Woensdag laat naby Siesta Key in Sarasota aan Florida se weskus as ’n kategorie 3-storm aangeland, met ’n aanvanklike windsterkte van 193 km/h. Dit het tot ’n kategorie 1-storm verswak en verby die Florida-skiereiland na die ooskus beweeg op pad na die Atlantiese Oseaan. 

Paaie is deur ontwortelde en gebreekte bome en kragdrade versper. Die dak van ’n bofbalstadion in Tampa is ook vernietig. Sowat drie miljoen huise en besighede was sonder krag. Tot dusver blyk dit die tornado’s, eerder as die vloedwater, is vir die sterftes verantwoordelik.

Volgens plaaslike owerhede is vyf mense in St. Lucie-distrik dood, drie in Volusia-distrik en twee in die stad St. Petersburg. Alejandro Mayorkas, minister van binnelandse veiligheid, het aan verslaggewers gesê die sterftes is deur die tornado’s veroorsaak.

In Polk-distrik is ’n beampte dood toe hy deur ’n kollega se voertuig getref is terwyl hy ’n boom van die pad verwyder het. Dié Amerikaanse staat het die vlak van katastrofiese verwoesting vrygespring wat amptenare gevrees het.

“Die storm was beduidend, maar gelukkig was dit nie die mees gevreesde scenario nie,” het die goewerneur van Florida, Ron DeSantis, op ’n nuuskonferensie gesê.

Milton het as ’n Kategorie 3-storm aan Florida se Golfkus aangeland, met kragtige winde wat gemeenskappe verpletter het, wat aan die herstel van orkaan Helene, was wat hulle slegs twee weke vantevore getref het. Altesaam 237 mense in Florida en ander suidoostelike state is weens orkaan Helene dood.

Die nasionale weerdiens het Woensdag 126 tornadowaarskuwings regoor die staat uitgereik, die meeste wat tot nog toe op ’n enkele dag vir ’n staat uitgereik is sedert die begin van rekordhouding in 1986, het die orkaankenner Michael Lowry geskryf.

Reddingsoperasies gaan voort terwyl noodwerkers inwoners wat weens vloedwater naby Tampa gestrand was, ontruim het.

OFM Nuus mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.