On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

South Africa

Wyle Gordhan se karakter en impak op samelewing geloof

───   14:33 Fri, 13 Sep 2024

Wyle Gordhan se karakter en impak op samelewing geloof | News Article
Pravin Gordhan is in die ouderdom van 75 oorlede. Foto: GCIS

“Ek het geen spyt nie, geen spyt nie … Ons het ons bydrae gelewer.”

Pravin Gordhan was ’n dienaar van die mense wat staatskaping raakgesoen het, sê die bekroonde Suid-Afrikaanse redakteur en joernalis Ferial Haffajee.

Dié voormalige minister van openbare ondernemings en stigterskommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens is Vrydagoggend in die ouderdom van 75 aan kanker oorlede. Sy gesin was langs sy sterfbed in die Wits Donald Gordon- mediese sentrum in Johannesburg, berig News24.

In sy laaste toespraak in Mei – uit sy hospitaalbed – het Gordhan die verwoestende nagevolge van die staatskapingstyd verwerp en gevra dat Suid-Afrikaners terugkeer na integriteit en demokratiese waardes ter verbetering van die land.

Pres. Cyril Ramaphosa het bevestig Gordhan kry Donderdag (19/9) ’n staatsbegrafnis in Durban, voor ’n privaat verassingseremonie in ooreenstemming met sy Hindoe-oortuigings. Planne vir die seremoniële afskeid van wyle Gordhan is bevestig, berig The Citizen.

“Ons het ’n uitstaande leier verloor wie se beskeie persoonlikheid die diepte van intellek, integriteit en energie onderstreep het waarmee hy sy aktivisme, sy plig as parlementslid en rol as kabinetslid onderneem het,” meen Ramaphosa.

Familie en vriende het op hul beurt Gordhan se karakter en invloed op die samelewing geloof. Sy dogter Priyesha het sy die toespraak aangehaal wat Gordhan geskryf het om die stigting van die Natalse Indiese Kongres te herdenk.

In dié toespraak het hy hom uitgespreek teen korrupsie, eiebelang en onderdrukking – kenmerke van Gordhan se ampstermyn in die staatsdiens.

Mede-oudminister Mac Maharaj sê dit is hartseer dat “PG”, soos kollegas hom genoem het, só kort ná sy aftrede oorlede is, want hy wou meer tyd saam met sy gesin deurgebring het. Maharaj beskryf Gordhan as ’n “groot gemeenskapswerker” en ’n “formidabele staatsamptenaar”, wat die belange van alle Suid-Afrikaners voorop gestel het.

Gordhan, wat die afgelope twee dekades agtereenvolgens minister van samewerkende regering en tradisionele sake, van finansies en van openbare ondernemings was, het ’n paar maande voor die algemene verkiesing in Mei as kabinetsminister afgetree om hom op sy gesondheid en familie toe te spits, berig eNCA.

Voor sy dood het hy gesê: “Ek het geen berou nie, geen spyt nie … Ons het ons bydrae gelewer.”

Die fliekvervaardiger Anant Singh, ’n goeie vriend, sê hy hoop Gordhan se nalatenskap van harde werk en toewyding aan die land sal voortleef onder die jeug van vandag.

Die meeste politieke party is vol lof vir Gordhan se nalatenskap. Die EFF is krities, berig Jacaranda FM, maar die ANC beskryf hom egter as ’n “dapper soldaat”, wat sy lewe daaraan gewy het om vir die mense van Suid-Afrika te veg en hulle te dien.

“Sy rol in die ondergrondse strukture van die beweging, die arbeid en massa- demokratiese beweging en Umkhonto weSizwe, insluitend Operasie Vula, het sy verbintenis tot die stryd van ons mense bevestig en sy toewyding aan vryheid en sosiale geregtigheid bevestig.

Maak SAID wêreldklas

“Sy lewe was ’n baken van moed, en sy bydraes tot die stryd vir ’n nierassige, nieseksistiese en demokratiese Suid-Afrika sal vir altyd in die annale van ons geskiedenis geëts bly.”

Die DA loof sy leierskap as SAID-kommissaris en maak melding van sy rol om die land se inkomstedienste in ’n instelling van wêreldgehalte te omskep.


“Gedurende sy ampstermyn as minister van finansies was Gordhan bekend vir sy ferm standpunt oor fiskale dissipline en sy stryd teen korrupsie, veral om teen die magte van staatskaping te staan,” sê Herman Mashaba, ActionSA-leier.

Songezo Zibi, RISE Mzanzi-leier, prys Gordhan as een van die eerste mense wat sy stem dik gemaak het teen staatskaping. “Ons staan om ’n lewe te herdenk wat goed geleef is in diens van Suid-Afrika en sy mense. Ek wil namens RISE Mzansi ons innige meegevoel betuig aan die Gordhan-familie, sy geliefdes en vriende, asook sy politieke tuiste, die ANC.”

‘EFF kan nie treur oor teenprogressiewe magte’

Die EFF het egter ’n ander perspektief gehad en sy nalatenskap gekritiseer as “diep verweef met die vernietiging van staatsondernemings en die verraad van die Suid-Afrikaanse mense”.

Woordvoerder Leigh-Ann Mathys sê die EFF kan nie treur oor “teenprogressiewe magte wat teen die potensiaal gestaan het om ’n suksesvolle, soewereine land te bou wat sy mense dien nie”.

“In plaas daarvan word ons herinner aan die wrak wat hy agterlaat, ’n wrak wat die lewens van gewone Suid-Afrikaners verwoes het.”

Sy opgang in die ANC-geledere het gelei tot sy aanstelling as minister van finansies in 2009 onder president Jacob Zuma, ’n pos wat hy tot 2014 beklee het, en toe weer van 2015 tot 2017 nadat hy kortstondig uitgetree het. Gordhan het onder beide die administrasies van oudpresident Jacob Zuma en president Cyril Ramaphosa gedien.

Sy verhouding met Zuma het versuur ná staatskaping onder die Zuma-administrasie, wat later die stigting van die Zondo-kommissie vir staatskaping meegebring het.


“In ’n toonaangewende loopbaan – van Maart 1999 tot 2009 – was hy die kommissaris van die SAID en het hy die SAID in ’n belasting-en-doeaneadministrasie van wêreldgehalte omskep,” sê die Ahmed Kathrada-stigting. 

Die Gordhan-gesin het versoek dat “hul privaatheid gerespekteer word gedurende hierdie moeilike tyd van hartseer”. 

Begrafnisreëlings en die besonderhede van ’n media-inligtingsessie word weldra bekend gemaak.

OFM Nuus cg/mc/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.