On Now
Weekends 09:00 - 12:00
Classic Sundays Tony
NEXT: 12:00 - 16:00 Classic Sundays with Christie
Listen Live Streams

International

Zimbabwe se afskaffing van doodstraf ‘groot stap vorentoe’

───   09:07 Fri, 03 Jan 2025

Zimbabwe se afskaffing van doodstraf ‘groot stap vorentoe’ | News Article
Die doodstraf vir alle misdade in Zimbabwe is terstond afgeskaf. Foto: X

Die VN verwelkom die afskaffing van die doodstraf in Zimbabwe en moedig ander lande aan om sy voorbeeld te volg, of ten minste ’n moratorium op die doodstraf in te stel.

Pres. Emmerson Mnangagwa het amptelik ’n wet bekragtig wat die doodstraf vir alle misdaad, burgerlik én militêr, in dié Suider-Afrikaanse staat onmiddellik afskaf.

Mnangagwa het die Wet op die Afskaffing van die Doodstraf onderteken, wat eenparig deur die parlement goedgekeur is en op Oujaarsaand in amptelike kennisgewings gepubliseer is.

Menseregtegroepe, soos Amnestie Internasionaal (AI), loof die besluit as ’n “baken van hoop vir die afskaffingsbeweging in die streek”, maar betreur die feit dat dit moontlik heringestel kan word tydens ’n noodtoestand.

“Deur die Wet op die Afskaffing van die Doodstraf te aanvaar, het Zimbabwe ’n groot stap gedoen om sy wette in pas te bring met internasionale menseregtestandaarde. Sy optrede dra ook ’n duidelike boodskap oor oor die fundamentele belangrikheid om die reg op lewe en menswaardigheid te beskerm,” sê Lucia Masuka, AI Zimbabwe se uitvoerende direkteur.

“Ons doen ’n beroep op die owerheid om nou vinnig voort te gaan met die volle afskaffing van die doodstraf deur die verwydering van die klousule in die wysigings aan die wetsontwerp wat die gebruik van die doodstraf gedurende enige noodtoestand toelaat.”

Zimbabwe se parlement het verlede maand besluit om die doodstraf af te skaf. Dit maak die land een van 114, waaronder 25 in Afrika, wat die doodstraf amptelik vir alle misdaad afgeskaf het. Nog tien lande het dit afgeskaf vir alle misdade, behalwe oorlogsmisdaad.

Zimbabwe het laas ’n teregstelling in 2005 uitgevoer deur ’n misdadiger te hang. Sedertdien was daar ’n moratorium op teregstellings, al het howe steeds die doodstraf vir misdaad soos moord, hoogverraad en terrorisme opgelê.

Teen 2023 was die doodstraf steeds wet in 55 lande, maar nie almal voer dit uit nie. Sommige lande het ’n de facto-moratorium in plek: Die doodstraf is steeds wettig, maar geen teregstellings is in jare uitgevoer nie.

Meer as twee derdes van wêreldlande het die doodstraf óf afgeskaf, óf pas dit nie meer toe nie as deel van ’n wêreldwye tendens. Baie wat steeds die doodstraf het, beperk die gebruik daarvan tot sekere misdade, en in sommige streke oefen menseregtegroepe en die VN ál meer druk uit om dit heeltemal af te skaf.

Die volgende streke het steeds die doodstraf:

  • Asië: Lande soos China, Indië, Japan, Pakistan en Saoedi-Arabië hou die doodstraf in stand. In China word die meeste teregstellings uitgevoer, hoewel die teregstellingssyfers ’n staatsgeheim is.
  • Afrika: Terwyl ál meer Afrika-lande die doodstraf afgeskaf het, gebruik sommige lande, soos Egipte, Somalië en Nigerië, dit steeds.
  • Die Midde-Ooste: Verskeie lande, waaronder Iran, Irak en Jemen, stel steeds misdadigers tereg.
  • Die Amerikas: Die Verenigde State is die enigste land in Noord-Amerika wat die doodstraf handhaaf, maar die getal teregstellings het die laaste jare afgeneem en sommige deelstate het dit afgeskaf.

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.