On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

South Africa

Bela word moontlik Vrydag wet

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:52 Thu, 12 Sep 2024

Bela word moontlik Vrydag wet | News Article
Foto: Wikimedia

“Tradisioneel bruin skole kan ook deur die wetgewing gedwing word om hul Afrikaanse taalbeleid aan te pas om klein getalle nie-Afrikaanssprekende leerders te akkommodeer.”

Die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys (beter bekend as Bela) sal moontlik binne 24 uur wet word ten spyte van hewige teenkanting.

Die wetsontwerp het wyd opspraak gewek omdat dit deur sommige beskou word as ’n aanval op Afrikaanse skole, sê Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum. Dié burgeregteorganisasie meen dit dra skoolbeheerliggame se gesag oor sowat 23 000 staatskole se taal- en toelatingsbeleid aan die staat oor.

Pres. Cyril Ramaphosa se kantoor het Woensdag (11/9) aangekondig dat hy die omstrede wetsontwerp Vrydag (13/9) tydens ’n seremonie in die Uniegebou in Pretoria sal bekragtig. Volgens die verklaring is die wet “gemik op die versterking van bestuur binne Suid-Afrika se onderwyssektor”.

Die Bela-wetsontwerp stel wysigings aan die bestaande Suid-Afrikaanse Skolewet en die Wet op Indiensneming van Opvoeders voor om voorsiening te maak vir ontwikkelings in die onderwys sedert dié wette ingevoer is. Die wysigings is in reaksie op hofuitsprake om die Handves van Menseregte te handhaaf, sê Vincent Magwenya, presidensiële woordvoerder.

Die Solidariteit Beweging, saam met sy filiale die Skoleondersteuningsentrum, AfriForum, Solidariteit Helpende Hand en die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge, het aangekondig hulle gaan met regstappe voort.

“Die beplande ondertekening van die Bela-wet is ’n daad van aggressie teen die Afrikaanse gemeenskap,” meen dr. Dirk Hermann, besturende direkteur van Solidariteit. “Die Bela-wet sal die regering onbehoorlike beheer gee oor kinders se opvoeding, taal en toelating.”

As dit in sy huidige vorm onderteken word, dop die regering van nasionale eenheid (RNE) sy eerste, belangrike toets, beweer Hermann. Hy kritiseer Ramaphosa ook omdat hy optree asof hy alleen die mag besit, ondanks die ANC se dalende steun.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, word bespiegel die DA en die VF Plus beplan om met Ramaphosa te beraadslaag oor die omstrede wet. Hermann moedig hulle aan om nie net die ondertekening teë te staan nie, maar ’n dispuut te verklaar.

As Ramaphosa voortgaan met die ondertekening van die wetsontwerp ten spyte van besware, sal dit die gesamentlike verklaring van voorneme oortree wat die grondslag van die RNE vorm, waarsku John Steenhuisen, DA-leier. “Die wetsontwerp, in sy huidige vorm, is onaanvaarbaar aangesien dit in stryd is met grondwetlike waardes.”

‘Die reg tot tuisonderrig deur burokratiese vereistes ondermyn’

Dit is noodsaaklik om die ondertekening daarvan te staak, sê dr. Wynand Boshoff, VF Plus-woordvoerder oor basiese onderwys. Die wet is “swak bedink” en lei tot “onnodige” onsekerheid en geskille oor gevestigde regte en verpligtinge in basiese onderwys.

“Hierdie wet is omstrede omdat dit die bevoegdheid om skole se taal- en toelatingsbeleid te bepaal, in die hande van provinsiale onderwysdepartemente plaas. Verder word die erkenning van die reg tot tuisonderrig deur burokratiese vereistes ondermyn,” sê Boshoff.

Kaapse Forum, wat ook met die Solidariteit Beweging geaffilieer is, doen ’n beroep op bruin gemeenskappe om nie die dreigende ondertekening van die drakoniese wette te beskou as ’n saak wat slegs voormalige model C-skole gaan raak nie.

“Dit is ’n geveg vir elke skool en elke huishouding in Suid-Afrika en spesifiek Afrikaanssprekende gemeenskappe,” sê Bernard Pieters, hoof van gemeenskapsaktivering, “en ons sal ook saam met ander organisasies ons tot die hof wend om dié wetgewing stop te sit”.

Baie gemeenskappe het ’n traak-my-nie-agtige houding teenoor Bela ingeneem, sê Pieters, omdat die ANC die indruk geskep het dat dit slegs voormalige model C-skole, oftewel tradisioneel wit skole is wat daarteen kapsie maak.

“Tradisioneel bruin skole kan ook deur die wetgewing gedwing word om hul Afrikaanse taalbeleid aan te pas om klein getalle nie-Afrikaanssprekende leerders te akkommodeer,” sê Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van die Kaapse Forum.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.