On Now
Weekends 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: 00:00 - 05:00 Early Mornings with Oscar
Listen Live Streams

South Africa

Treintenderskandaal: Prasa se hoof-ingenieur tronkstraf opgelê

───   12:51 Tue, 03 Sep 2024

Treintenderskandaal: Prasa se hoof-ingenieur tronkstraf opgelê | News Article
Daniel Mthimkhuluis tot 15 jaar tronkstraf gevonnis. Foto: X

“In Junie 2010 het hy vir Prasa gelieg oor ’n werksaanbod van ’n Duitse ingenieursfirma vir ’n pos as ’n ingenieursdienstespesialis teen ’n salaris van R2,8 miljoen per jaar.”

Die voormalige hoof-ingenieur van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) is Dinsdagoggend (3/9) tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir die vervalsing van sy kwalifikasies en die indiening van ’n vals werksaanbod van ’n Duitse maatskappy om sy salaris op te stoot.

Die Johannesburgse spesialishandelshof in Palm Ridge het Daniel Mthimkhulu skuldig bevind aan drie aanklagte van bedrog, het die NVG in Gauteng Maandag (2/9) gesê. 

Mthimkhulu, wat ’n sentrale rol in die treintenderskandaal gespeel het, het opslae gemaak toe hy die spooragentskap in 2015 verlaat het ná berigte dat hy sy kwalifikasies wanvoorgestel het om die pos as hoof van ingenieursdienste te kry. Mthimkhulu se jaarlikse salaris het van R1,6 miljoen as uitvoerende bestuurder aan die hoof van ingenieursdienste tot R2,8 miljoen gespring.

Hy het beweer hy het ’n Meestersgraad van die Universiteit van Witwatersrand en voorgehou hy het ’n doktorsgraad in ingenieursbestuur van die Tegniese Universiteit München in die Duitse deelstad Beiere. 

“In Junie 2010 het hy vir Prasa gelieg oor ’n werksaanbod van ’n Duitse ingenieursfirma vir ’n pos as ’n ingenieursdienstespesialis teen ’n salaris van R2,8 miljoen per jaar. Gevolglik het Prasa ’n teenaanbod aan Mthimkhulu gemaak in September 2010, teen ’n salaris van R2,8 miljoen,” lui die verklaring.

Die vonnis is deur landdros Philip Venter opgelê. Hy het Mthimkhulu tot 15 jaar tronkstraf en ses jaar elk op twee ander aanklagte van bedrog gevonnis. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

OFM Nuus cg/mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.