On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

South Africa

Geliefde TV-onnie William Smith sterf in Australië

───   14:00 Thu, 22 Aug 2024

Geliefde TV-onnie William Smith sterf in Australië | News Article
William Smith ontvang die Orde van die Kremetart van pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Facebook

“Smith het hard daaraan gewerk om leerlinge aan te moedig om wiskunde en wetenskap te verstaan en daarop verlief te raak.”

Suid-Afrika se president het sy hartseer uitgespreek oor die heengaan van die innoverende wiskunde-en-wetenskaponderwyser en gewaardeerde lid van die Nasionale Orde van die Kremetart (silwer), wat derduisende Suid-Afrikaners wiskunde en wetenskap help slaag het.

Seker die land se geliefkoosde wiskunde-en-wetenskaponderwyser, William Smith, is in die ouderdom van 85 oorlede. Smith het Woensdag in Perth, Australië, beswyk nadat ’n gevorderde stadium van kanker onlangs by hom gediagnoseer is.

“Dit is met diepe hartseer dat ons die afsterwe aankondig van William Smith, wat ons vandag rustig verlaat het by sy tuiste in Perth, Australië, omring deur familie,” het sy dogter, Jessica Smith Penfold, gesê.

William Smith was ’n bekende naam in Suid-Afrika as ’n TV-aanbieder op die SAUK se leerkanaal. Foto: Facebook

Vanaf die vroeë 1990’s het Smith daaraan gewerk om leerlinge aan te moedig om wiskunde en wetenskap te verstaan en daarop verlief te raak. Hy het vir twee dekades komplekse vakke aangebied, veral gedurende die nasionale eksamentydperke.

Smith het aan die Union High op Graaff-Reinet gematrikuleer. Hy het ’n B.Sc.-graad in Fisika en Chemie aan die Rhodes-universiteit verwerf, gevolg deur ’n honneursgraad in Chemie aan dieselfde instelling. Hy het verder, in slegs sewe maande, ’n meestersgraad aan die Universiteit van KwaZulu-Natal verwerf.

Terwyl hy ’n onderwyser was, het hy finansiële ondersteuning gekry om die televisieprogram op die SAUK se leerkanaal te behartig. Sy baanbrekende program was ’n oop Suid-Afrikaanse skool wat Fisiese Wetenskappe, Wiskunde, Biologie en Engels onderrig het.

Smith het tale toekennings en eerbewyse in sy roemryke loopbaan ontvang, insluitend die Nasionale Orde van die Kremetart (silwer) in 2019. Pres. Cyril Ramaphosa het Smith as ’n opvoedkundige en kulturele ikoon vir die nasie beskryf. 

“Die uitstorting van toegeneentheid wat die nasie teenoor hom geopenbaar het toe hy sy Nasionale Orde ontvang het, het vir jare ná sy aftrede steeds die plek weerspieël wat hy in mense se hart beklee het.

“Hy was sinoniem met die Knysna-koppe, wat die agtergrond was van sy televisie-aanbieding, dekades voordat ons aan hom kon dink as die eerste onderwyser wat afstandonderrig gegee het.

“Hy het wiskunde en wetenskap vir sy gehoor vereenvoudig, wat veel weier as leerders gestrek het, self hul ouers en enigiemand wat hierdie vakke wou herbesoek of meer wou leer, lank nadat hulle die skool verlaat het, het na sy programme gekyk.

“William Smith se passie vir sy kurrikulum en vir die sukses van diegene wat hy in klaskamers, op matriekkampe en op televisie onderrig het, het miljoene jong Suid-Afrikaners bevoordeel, selfs voor ons oorgang na demokrasie en die aanbreek van ’n nuwe bedeling van gelyke onderwys.”

Smith se pa was een van die mense wat die selakant, ‘n oervis wat skynbaar uitgesterf het, help uitken het. Marjorie Courtenay-Latimer was die kurator van die Oos-Londense museum. Sy het die selakant, ’n vis wat vermoedelik 65 miljoen jaar gelede uitgesterf het, op 22 Desember 1938 ontdek. Die vis is na haar genoem: Latimeria chalumnae.

Sy het ’n vriend, prof. J.L.B. Smith, William Smith se pa, ’n gesiene igtioloog aan Rhodes, genader om haar te help om die vis uit te ken. Hy kon egter nie onmiddellik Oos-Londen toe gaan nie. Courtenay-Latimer het dit na ’n taksidermis gestuur om die ingewande te verwyder en die vel te bewaar.

Latimer by die selakant wat sy ontdek het. Foto: Wikipedia

Toe Smith uiteindelik op 16 Februarie 1939 daarheen kon gaan, het hy die vis dadelik as ’n selakant herken. “Daar was geen sweempie twyfel nie,” het hy gesê. Smith het dit die wetenskaplike naam Latimeria chalumnae gegee, ter ere van sy vriendin en die Chalumnarivier, waar dit gevind is.’n Tweede selekant is eers 14 jaar later gevind.

Huldeblyke stroom nou weer vir Smith in, soos toe hy sy Nasionale Orde ontvang het.

Die DA het Woensdag in ’n kort verklaring gesê Smith het Wiskunde en Wetenskap vir talle leerders verander. 

OFM Nuus cg/mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.