Agriculture
Agri Noord-Kaap deel strategie vir 2025─── 05:00 Wed, 15 Jan 2025
Dirk Krapohl, uitvoerende hoof van Agri Noord-Kaap, deel insigte oor die organisasie se fokus en strategiese planne vir 2025.
Met ’n nuwe jaar vol hoop, skep Agri Noord-Kaap ’n platform om met vooruitbeplanning en strategiese aksies die uitdagings van die landbousektor aan te pak. “Ons gaan nie ’n dramatiese draai maak nie, maar ons wil meer vooruitdenkend wees en ons organisasie in lyn bring met ons lede se behoeftes op grondvlak.”
Krapohl beklemtoon dat Agri Noord-Kaap jaarliks hul strategie aanpas om relevant te bly. Vanjaar sluit die hoofdoelwitte in:
- Uitbreiding van die organisasie: Die skep van ’n platform waar nie net lede nie, maar ook private en ander landbou-organisasies deel kan wees van die netwerk.
- Versterking van veiligheidsnetwerke: Die organisasie beplan om die bestaande kamerastelsels in die provinsie te verbeter en beter integrasie met die Eyes and Ears-sisteem (E2) te verseker. “Ons wil ’n duidelike oorsig hê oor wat in die Noord-Kaap aangaan.”
- Waak oor kritieke wetgewing: Wetgewing soos die voorgestelde onteieningswet is onder noukeurige monitering, aangesien dit groot implikasies vir die landbousektor kan hê.
Die Noord-Kaap, wat tradisioneel uitdagende klimaatstoestande ervaar, bly afhanklik van doeltreffende beplanning. “Ons voetwerk moet vroeg in orde wees, veral as die reën weer eens wegbly.”
In sy slotboodskap het Krapohl die belangrikheid van volharding onderstreep. “Aan ons lede en boere wil ek sê: hou moed, byt vas en, soos Charles Saunderson altyd sê, ‘Boer, laat dit bars.’”
OFM Agri dg