On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Tyd vir saamstaan om gehoor te word

───   05:00 Mon, 13 Jan 2025

Tyd vir saamstaan om gehoor te word | News Article
Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou. Foto: Bloemfontein Courant

Vrystaat Landbou se president, Francois Wilken, het met OFM Agri gesels oor die uitdagings en geleenthede wat primêre produsente in die provinsie ervaar aan die begin van 2025.

Onreëlmatige reën en landbouproduksie

Volgens Wilken bly die grootste uitdaging op die oomblik die onegalige reënval in die Vrystaat. 

Hoewel daar gebiede is wat goeie reën ontvang, is daar ook dele waar die droogte steeds voortduur. Hierdie situasie plaas druk op die huidige seisoen se oeste.

“In die veebedryf is weiding ook ’n groot bekommernis. Die groeiseisoen is besig om tot ’n einde te kom, en veeboere sukkel met beperkte hulpbronne. Die pryse van vee bly ook onder druk.” 

Fokusareas vir 2025

Wilken het uitgelig dat Vrystaat Landbou vanjaar onder meer op die volgende sleutelaspekte sal fokus:

  • Infrastruktuur:

Die toestand van paaie in die Vrystaat bly ’n groot uitdaging. “Ons paaie is in ’n baie swak toestand, en hoewel ons al vergaderings met die departement gehad het, gebeur daar eenvoudig nie genoeg nie.” Die organisasie beoog om meer druk op die betrokke owerhede te plaas.

  • Ondersteuning aan produsente:

Die ondersteuning van boere gedurende moeilike tye is ’n prioriteit. Finansieringsmodelle wat spesifiek op landbou gerig is, moet ontwikkel word, aangesien baie boere sukkel om oorbruggingsfinansiering te bekom.

Wilken beklemtoon die belangrikheid daarvan om boere se stemme weer hoorbaar te maak en bewustheid oor hul uitdagings te skep.

Boodskap aan Boere

Aan die begin van die nuwe jaar het Wilken boere aangemoedig om positief te bly te midde van moeilike omstandighede. 

“Ons boere is onder groot druk, maar ek wil hulle aanmoedig om saam te staan en hul stemme te laat hoor. Die pad vorentoe mag uitdagend wees, maar met ’n gesindheid van samewerking en hoop kan ons voortgaan om voedsel vir ons land te produseer.”

Hy het ook sy hoop uitgespreek dat die ekonomie sal verbeter en dat daar hernude ondersteuning vir die landbousektor sal wees, veral vir veeboere wat tans swaar kry.

OFM Agri mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.