On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Landbou moet seëvier– TLU SA

───   ROBYN SCHUTTE 08:23 Wed, 04 Sep 2024

Landbou moet seëvier– TLU SA | News Article
‘Landbou moet seëvier’ is vanjaar se tema by die TLU SA se jaarkongres. Foto: iStock

“Kos op die tafel is die olie wat die hele land laat draai.”

TLU SA se jaarkongres begin vandag in Pretoria en beloof om ’n belangrike gebeurtenis te wees met die tema –  Landbou moet seëvier. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, het met OFM Agri gepraat oor die dryfveer agter die tema en wat verwag kan word van die komende kongres.

Van Zyl verduidelik die tema vir hierdie jaar se kongres is gekies om die kern van die landboubedryf se rol in die Suid-Afrikaanse samelewing te beklemtoon. “Kos op die tafel is die olie wat die hele land laat draai. Sonder voldoende voedsel kan ander sektore van die ekonomie nie behoorlik funksioneer nie. Daarom is dit vir ons van uiterste belang dat landbou moet leef en seëvier om die land se welstand te waarborg.”

‘Ons gaan die ekonomiese beginsels ook bespreek’

Die kongres sal ’n dinamiese program aanbied wat brandpunte in die landbou sal aanpak, asook die uitdagings en geleenthede wat die toekoms inhou. “Ons gaan die ekonomiese beginsels ook bespreek wat boere kan help om winsgewend te wees. Die kongres is die vlagskip van ons jaarlikse landbou-geleenthede en sal ’n oorsig gee van wat nodig is om landbou volhoubaar te maak.”


Van Zyl sê die huidige stand van landbou in Suid-Afrika is uiteenlopend en verskil tussen kommoditeite. “In die rooivleisbedryf is daar druk as gevolg van probleme met entstowwe en pryse. Die voëlgriep en droogtes het ook groot impakte gehad op ander sektore. Ondanks hierdie uitdagings het landbou die buigsaamheid om aan te pas en kos na die markte te bring.”

Die kongres sal belangrike onderwerpe bepreek soos beleidsonsekerheid, veiligheid en die impak van tegnologie op landbou.’

‘Grondvlakgeleentheid wat stem van boer self laat hoor’

“Ons het ook ’n spesiale boodskap van John Steenhuisen, minister van landbou, ontvang en lede kan uitsien na ’n aangrypende toespraak deur ons president, Henrik Geldenhuys. Ander hoogtepunte sluit ’n paneelbespreking in oor veiligheid en die bekendstelling van ons jong boer van die jaar en landbou persoonlikheid van die jaar.”

Die kongres is ’n grondvlakgeleentheid wat die stem van die boer self laat hoor. Dit is ’n platform waar beleid bepaal word en waar die landboubedryf se uitdagings en suksesverhale gedeel word. “Ons fokus is om landbou in die regte ekonomiese koers te neem en ’n positiewe invloed op die bedryf te hê.”  

OFM Agri/Robyn Schutte dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.