On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

International

Fransman in hof nadat meer as 50 mans sy vrou verkrag

───   14:10 Mon, 02 Sep 2024

Fransman in hof nadat meer as 50 mans sy vrou verkrag  | News Article
Gisèle Pélicot sit langs haar dogter, Caroline Darian (in swart), en haar seuns tydens die verkragtingsverhoor. Foto: X

“Die polisie het daarna honderde foto’s en video’s van sy vrou op sy rekenaar gevind.”

Die verhoor van 'n Franse pensioenaris, wat daarvan beskuldig word dat hy sy vrou swaar verdoof en laat verkrag het, begin Maandag (2/9). 

Vyftig mans wat aanlyn gewerf is, word ook in die suidelike stad van Avignon saam met die hoofverdagte (71), wat by Frankryk se kragmaatskappy EDF werksaam was, verhoor, berig scmp.com.

Die polisie het Dominique Pélicot in September 2020 begin ondersoek toe hy deur ’n veiligheidswag in ’n winkelsentrum betrap is, terwyl hy geheimsinnig drie vroue onder hul romp afgeneem het.

Die polisie het daarna honderde foto’s en video’s van sy vrou op sy rekenaar gevind, sigbaar bewusteloos en meestal in die fetale posisie. ’n Kenner sê haar toestand “was nader aan ’n koma as om te slaap”.

Die beelde wys na bewering tientalle verkragtings in die egpaar se huis in Mazan, ’n dorpie met sowat 6 000 inwoners sowat 33 km van Avignon in Provence.

Uiteenlopende beroepe

Ondersoekers het ook gesprekke op ’n webtuiste, coco.fr, gevind, wat sedertdien deur die polisie gesluit is. Dis waar hy vreemdelinge gewerf het om na hul huis te kom en met sy vrou gemeenskap te hê. Die polisie het altesaam 92 verkragtings getel wat deur 72 mans gepleeg is, waarvan 51 verdagtes geïdentifiseer is. 

Die beskuldigdes verteenwoordig uiteenlopende Franse werkers: vragmotorbestuurders, soldate, skrynwerkers en handelswerkers, ’n tronkbewaarder, ’n verpleër, ’n rekenaarkundige by ’n bank, ’n brandweerman, ’n maatskappybaas en ’n plaaslike joernalis.

Die mans (tussen 26 en 74) word daarvan aangekla dat hulle die vrou (72) verkrag het wat, volgens haar prokureurs, so erg verdoof was dat sy nie bewus was van die mishandeling wat ’n dekade lank aangehou het nie. Die mishandeling het glo in 2011 begin toe die egpaar naby Parys gewoon het, en het voortgeduur nadat hulle twee jaar later na Mazan verhuis het.

Sommige mans was enkellopend, ander getroud of geskei, en sommige was gesinsmanne. Die meeste het net een keer deelgeneem, maar sommiges het hulle aan tot ses verkragtings skuldig gemaak.

Die verhoor sal vir haar ’n verskriklike beproewing wees, sê Antoine Camus, een van haar prokureurs. “Vir die eerste keer sal sy die verkragtings moet beleef, wat sy tien jaar lank verduur het,” sê hy en voeg by dat sy kliënt geen van die gevalle kan onthou, wat sy eers in 2020 ontdek het nie.

Gisèle Pélicot is deur haar drie kinders ondersteun toe sy by die hof opgedaag het. Sy kon kies om ’n verhoor agter geslote deure te hê, maar “dis wat haar aanranders sou wou gehad het”, sê Camus. Sy het intussen van haar man geskei en haar naam verander.

Dominique Pélicot het teenoor ondersoekers erken dat hy sy vrou swaar kalmeermiddels gegee het, veral Temesta – ’n middel teen angs.

Volgens aanklaers het die man aan die verkragtings deelgeneem, dit verfilm en die ander mans aangemoedig om vernederende taal te gebruik. Geld was nooit betrokke nie.

‘Slegs drie mans het die huis vinnig verlaat’

Die beskuldigdes se verweer was dat hulle bloot ’n liberale egpaar gehelp het om hul fantasieë uit te leef, maar Dominique het aan ondersoekers gesê dat almal bewus was dat sy vrou sonder haar medewete bedwelm was. Haar man het aan aanklaers gesê dat slegs drie mans die huis vinnig verlaat het nadat hulle daar aangekom het, terwyl al die ander seks met sy vrou gehad het.

Hy het die meeste van die mans ontmoet, lui die ondersoeker se verslag, in ’n kletskamer op ’n berugte, ongemodereerde Franse webwerf wat betrokke was by meer as 23 000 polisiesake in Frankryk van 2021 tot 2024. Dit is uiteindelik gesluit, en die eienaar daarvan is in Junie gearresteer ná ’n ondersoek van 18 maande wat oor Europa heen strek.

Die kletskamer waar die meeste van die mans hom ontmoet het, is “a son insu” genoem, wat “sonder hul medewete” beteken.

‘Aan die einde van elke aand het hy sy vrou se liggaam skoongemaak’

Deur die jare, het mnr. Pelicot aan die polisie gesê, het hy reëls vir die besoekers ontwikkel om te verseker dat sy vrou nie wakker word nie: geen rook of parfuum nie; hulle moes in die kombuis uittrek; hul hande onder warm water afspoel, sodat hulle koue aanraking haar nie sou wakker maak nie.

Aan die einde van elke aand, volgens dié verslag, het hy sy vrou se liggaam skoongemaak.

Dominique beweer dat hy deur ’n manlike verpleegster verkrag is toe hy nege was. Hy is gereed om teenoor sy familie en sy vrou verantwoording te doen, sê sy prokureur Beatrice Zavarro.

Caroline Darian se boek, waarvan die titel beteken “en ek het opgehou om jou Pappa te noem”. Foto: Leboncoin

Ná die ontstellende onthullings oor haar pa het Dominique se middelkind en enigste dogter, Caroline Darian (haar skrywersnaam), hom beskryf as ’n warm en teenwoordige pa in ’n boek wat in 2022 oor die saak gepubliseer is. Die titel daarvan beteken “en ek het opgehou om jou Pappa te noem”.

Sy het probeer om iets goeds van haar gesinstrauma te maak deur ’n organisasie sonder winsoogwerk te stig waarvan die naam neerkom op “moenie my aan die slaap maak nie”, wat die gevare van misdade met behulp van dwelms aan die lig wil bring.

Hierdie verhoor is dalk ook nie sy laaste nie. Hy word ook aangekla van ’n moord en verkragting in 1991, wat hy ontken, en ’n poging tot verkragting in 1999, wat hy erken het ná DNS-toetse. 

Kenners meen die man blyk nie geestelik versteurd te wees nie, maar in dokumente het hulle gesê hy het ’n behoefte om “mag” oor die vroulike liggaam uit te oefen. Die verhoor sal tot 20 Desember duur.

OFM Nuus cg/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.