On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

International

Afrika-jeug staan voor kruispad – peiling

───   08:30 Wed, 11 Sep 2024

Afrika-jeug staan voor kruispad – peiling | News Article
Byna 58% van jongmense sê hulle oorweeg om na ’n ander land te emigreer. Foto: Ichikowitz Family Foundation

“Byna 60% van jong Afrikane wil die vasteland verlaat omdat hul regering nie korrupsie onder beheer het nie.”

’n Onlangse peiling skets die prentjie van ’n generasie in Afrika by ’n kruispad –hulle is optimisties oor hul toekoms, maar gefrustreerd deur plaaslike hindernisse.

Jong Afrikane vra vir meer ingryping deur bestuur, groter ekonomiese geleenthede, optrede teen klimaatsverandering en beter beskerming teen waninligting. Terwyl hulle gretig is om hul eie toekoms te skep, voel hulle dat sistemiese kwessies, veral die toenemende korrupsie, baie aspekte van hul lewe en aspirasies raak en hul toekoms belemmer.

Afrika is die tuiste van byna 420 miljoen jeugdiges tussen 15 en 35 jaar van wie een derde werkloos is, sê die African Development Bank. Dit het die wêreld se jongste en vinnigste groeiende bevolking wat na verwagting teen 2050 tot meer as 830 miljoen sal verdubbel.

Byna 60% van jong Afrikane wil die vasteland verlaat omdat hul regering nie korrupsie onder beheer het nie, volgens ’n nuwe peiling onder die jeug in 16 Afrikalande. Hulle het korrupsie as die grootste struikelblok vir vordering uitgesonder volgens die 2024 African Youth Survey wat onlangs gepubliseer is. Noord-Amerika is hul topbestemming gevolg deur Brittanje, Frankryk, Duitsland en Spanje. 

Die peiling in opdrag van die Ichikowitz Family Foundation in Johannesburg het 5 604 mense tussen 18 en 24 jaar ondervra in Botswana, Kameroen, Tsjad, die Republiek van die Kongo, Ivoorkus, Ethiopië, Gaboen, Ghana, Kenia, Malawi, Namibië, Nigerië, Rwanda, Suid-Afrika, Tanzanië en Zambië. 

Altesaam 83% van hulle het gesê hulle is bekommerd oor korrupsie en 62% glo die regering versuim om dit aan te spreek. Die peiling het getoon dat byna 58% van jongmense sê dat hulle “baie waarskynlik” of “ietwat waarskynlik” sal oorweeg om in die volgende drie jaar na ’n ander land te emigreer.

“Kommer is wydverspreid oor verskillende sfere, insluitend nasionale en plaaslike regerings, maatskappye en polisiemagte,” lui die opname, wat in Januarie en Februarie via persoonlike onderhoude gevoer is.

“Hulle wil strenger sanksies teen korrupte politici hê, insluitend om hulle te verbied om vir hul amp te staan,” het die stigting gesê. Meer as die helfte, of 55% van die respondente, het gesê Afrika is in die “verkeerde rigting” op pad, hoewel daar ’n beskeie styging tot 37% in “Afro-optimisme” was vanaf die 2022-peiling.

Benewens korrupsie by die huis was 72% van die respondente ook bekommerd oor die negatiewe uitwerking van buitelandse invloed. “Hulle is bekommerd dat hul lande deur buitelandse maatskappye uitgebuit word, veral hul natuurlike minerale rykdom, wat ontgin en uitgevoer word sonder enige verdere voordeel vir die mense.” 

‘Trump-oorwinning veel slegter uitkoms vir Afrika’

Nietemin het 82% positiewe sienings gehad oor die invloed van China wat massiewe infrastruktuurprojekte oor die vasteland heen tot gevolg gehad het.

Sowat 79% het die invloed van Amerika as positief beskou, met 41% wat gesê het dit bied “belangrike lenings en ekonomiese ondersteuning”. Die meeste het gesê ’n Donald Trump-oorwinning in die Amerikaanse presidentsverkiesing in November sal ’n veel slegter uitkoms vir Afrika inhou as ’n oorwinning deur die Demokraties-benoemde Kamala Harris.

Persepsies van Russiese invloed het toegeneem, veral in Malawi en Suid-Afrika, met meer as die helfte van diegene met ’n positiewe siening van Rusland wat sy voorsiening van graan en kunsmis noem.

’n Beduidende aantal jeugdiges – 30% – beskou Russiese invloed egter as negatief, meestal as gevolg van “nadelige invloede op Afrikalande wat veroorsaak word deur Rusland se betrokkenheid by konflikte”, luidens die opname.

Namate Afrika se jeugbevolking aanhou groei, is die begrip van hul perspektiewe noodsaaklik vir beleidmakers, maatskappye en die burgerlike samelewing. Die African Youth Survey bied waardevolle insigte om beleidstellings en inisiatiewe te vorm wat die geweldige potensiaal van die vasteland se jongmense kan ontsluit. 

Dit vra vir dringende optrede om korrupsie te bekamp, vir meer ekonomiese geleenthede en dat kritieke kwessies soos klimaatsverandering aangepak word. Die jeug wil ook bemagtig word om leiding te gee in die oplossing van Afrika se uitdagings.

‘Beleggings in Afrika se jeug noodsaaklik’

Hoe Afrika en die wêreld op hul oproepe om verandering reageer, sal deurslaggewend wees om te bepaal of hierdie keerpunt tot ’n beter toekoms of voortgesette stryd sal lei. Die opname maak dit duidelik dat beleggings in Afrika se jeug – hul onderig, maatskappye en burgerlike betrokkenheid – nie net ’n opsie is nie, maar ’n noodsaaklikheid vir die vasteland se vooruitgang en stabiliteit.

OFM Nuus/Bronne: psbinsights.com; ichikowitzfoundation.com; en aljazeera.com dg





@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.