Agriculture
Agribesigheidsvertroue toon herstel in derde kwartaal─── 12:20 Mon, 16 Sep 2024
“Die derde kwartaal se resultate toon ’n mate van verbetering, maar die fundamentele uitdagings wat die sektor reeds voor die verkiesings in die gesig gestaar het, bly steeds beduidend.”
Ná ’n skerp daling in die tweede kwartaal van 2024, waar die Agribesigheidsvertroue-indeks tot sy laagste vlak sedert die 2009 globale finansiële krisis gedaal het, het die indeks in die derde kwartaal met 10 punte tot 48 gestyg. “Hierdie herstel kom as ’n bemoedigende teken, al bly die indeks onder die neutrale 50-puntmerk, wat steeds daarop dui dat Suid-Afrikaanse agribesighede besorg is oor die algehele besigheidsomstandighede,” sê Wandile Sihlobo, landbousakekamer Agbiz se hoofekonoom.
Faktore wat vertroue beïnvloed
Luidens Sihlobo se verslag was een van die faktore wat tot die pessimisme in die tweede kwartaal bygedra het, die onsekerheid rondom die verkiesings, “maar die vorming van ’n regering van nasionale eenheid het hierdie kommer deels verlig. Die fokus is weer terug op kernsake in die landboubedryf”.
Ondanks die verbetering, is daar steeds uitdagings soos die aanhoudende droogte wat die 2023-24 someroes beïnvloed het, swak padinfrastruktuur, gebrekkige munisipale dienste, aanhoudende dieresiektes, en verhoogde geopolitieke spanning. “Dit bly van die grootste kommerpunte in die sektor.”
Nóg ’n kwessie is die ondoeltreffendheid van hawens, hoewel georganiseerde landbou ’n produktiewe verhouding met Transnet handhaaf. Daar is steeds ruimte vir verbetering in hawedoeltreffendheid. Hierdie opname is in die eerste week van September uitgevoer en het agribesighede in al die landbousektore in Suid-Afrika gedek.
We see encouraging levels of optimism amongst the South African agribusiness and farming community.
— Wandile Sihlobo (@WandileSihlobo) September 16, 2024
But we are not yet where we can say, things are fine.
Read more here: https://t.co/6V6dZhLOUB pic.twitter.com/PUuqDEM3Pf
Die indeks bestaan uit tien subindekse, waarvan meeste in die derde kwartaal verbeter het:
- Omsetindeks: Vertroue in omset het met 19 punte gestyg tot 50. “Hierdie optimisme kom hoofsaaklik van maatskappye wat in wintergewasse en finansiële dienste werk. Aan die ander kant bly produsente van rooivleis en somergraan effens pessimisties weens die droogte en dieresiektes.” Die masjineriebedryf het min verandering getoon van die vorige kwartaal. In lyn met die omsetindeks het die netto bedryfsinkomste-indeks met 12 punte verbeter tot 46.
- Indiensnemingsindeks: “Verrassend genoeg het hierdie indeks met 8 punte gestyg tot 64, ondanks die feit dat landbou-indiensneming in die tweede kwartaal met 5% gedaal het. Dit dui moontlik op optimisme oor beter produksievooruitsigte in die seisoen wat voorlê.”
- Kapitaalbeleggingsindeks: Hierdie indeks het met 11 punte gestyg tot 57, wat dui op ’n verandering in sentiment rakende beleggings. “Dit kan verband hou met die verwagte afname in rentekoerse wat die toegang tot kapitaal vir boere en landbou-ondernemings kan vergemaklik.”
- Algemene ekonomiese toestande: Die indeks vir algemene ekonomiese toestande het met 4 punte herstel tot 43. “Hierdie verbetering kan gekoppel word aan die verwagte afname in beurtkrag, wat markontleders se meer positiewe voorspellings oor die BBP ondersteun.”
- Algemene landboutoestande: Hierdie indeks het met 4 punte gestyg tot 50. “Die optimisme weerspieël verwagtinge van ’n La Niña weerstelsel wat in Oktober begin, wat broodnodige reën vir somergewasse kan bring.”
Dalende sentiment in sekere subindekse
- Uitvoersentiment-indeks: Hierdie subindeks het met 7 punte gedaal tot 14, wat dui op ’n verwagte afname in uitvoervolumes vanweë die moeilike somerseisoen droogte. Suid-Afrika se landbou-uitvoer het reeds in die tweede kwartaal van 2024 met 0,1% gedaal in vergelyking met dieselfde tydperk in 2023.
- Subindeks vir markaandeel: Hierdie indeks het met 1 punt afgeneem tot 64, maar bly steeds op ’n neutrale vlak van 50 punte, wat minder kommerwekkend is. Wat die subindekse vir debiteurvoorsiening vir slegte skuld en finansieringskoste betref, word ’n daling in hierdie indekse as gunstig beskou, terwyl ’n styging op finansiële spanning dui. In die derde kwartaal het die debiteurvoorsiening vir slegte skuld met 19 punte gestyg tot 50, wat die druk op sommige boerderyondernemings beklemtoon.
“Die derde kwartaal se resultate toon ’n mate van verbetering, maar die fundamentele uitdagings wat die sektor reeds voor die verkiesings in die gesig gestaar het, bly steeds beduidend,” meen Sihlobo, wat afsluit deur te sê hoewel die komende somerseisoen belowend lyk, die langtermyngroei van die sektor afhang van die RNE se vermoë om kritieke uitdagings aan te spreek, “insluitend die verbetering van netwerkbedrywe, die funksionering van munisipaliteite, en die opening van nuwe uitvoermarkte”.
Die indeks word saamgestel deur Agbiz en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie.