On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Lesotho-Hoogland-waterprojek: Instandhouding fyn dopgehou

───   14:08 Mon, 16 Sep 2024

Lesotho-Hoogland-waterprojek: Instandhouding fyn dopgehou | News Article
Die DA-afvaardiging besoek die kanaal. Foto verskaf

Die Trans-Caledon Waterowerheid gaan vanaf Oktober 2024 die watervloei na Suid-Afrika vir ’n voorgestelde tydperk van ses maande opskort om noodsaaklike instandhoudingswerk en konstruksie in Lesotho te voltooi.

Die komende ses-maande sluiting van ’n gedeelte van die Lesotho-Hoogland-waterprojek, sal fyn dopgehou word.

Leier van die DA in die Vrystaat, dr. Roy Jankielsohn, vertel die party gaan die impak van die komende instandhoudingsluiting op Vrystaatse inwoners noukeurig monitor. Die Trans-Caledon Waterowerheid gaan vanaf Oktober 2024 die watervloei na Suid-Afrika vir ’n voorgestelde tydperk van ses maande opskort om noodsaaklike instandhoudingswerk en konstruksie in Lesotho te voltooi.

“Baie gemeenskappe in die Vrystaat is afhanklik van water wat deur die kanaal na die Asrivier tussen Clarens en Bethlehem vloei, wat ook weer verskeie riviere in Gauteng voed. Hierdie sluiting sal na verwagting watervoorsiening aan dorpe en die landboubedryf in die Vrystaat aansienlik verminder,” het Jankielsohn in ’n verklaring gesê.

’n DA-afvaardiging het onlangs die gebied besoek. Foto verskaf

’n DA-afvaardiging bestaande uit Stephen Moore, die party se adjunkwoordvoerder vir water en sanitasie, Jankielsohn en David Mc Kay, lede van die Vrystaatse wetgewer, asook Irene Rugheimer en Hilton Maasdorp, Dihlabeng-raadslede, het onlangs met inwoners van Clarens vergader om potensiële risiko’s te bespreek.

“Inwoners het hul kommer uitgespreek oor die stadige vordering met die toerusting van bykomende boorgate en die vestiging van nodige infrastruktuur om betroubare watervoorsiening tydens die sluiting te verseker. Volgens ’n antwoord in die nasionale raad van provinsies is R9,7-miljoen toegeken vir ses boorgate om water vir Clarens en Kgubetswana aan te vul.”

‘Regering berus hulle op seisoenale reënval’

Jankielsohn meen die regering berus hulle op seisoenale reënval om die impak van die sluiting te versag, terwyl water van die Sol Plaatje- en Sterkfonteindamme in die komende maande in die Liebenbergsvlei- en Wilgeriviere vrygestel gaan word.

“Ons is egter bekommerd oor moontlike gesondheidsgevare weens die opbou van rou riool in hierdie riviere as gevolg van disfunksionele munisipale rioolstelsels. Die water uit die kanaal help gewoonlik om die riool te verdun.”

Hy sê die DA sal aktief toesien dat die verbintenisse van die nasionale departement van water en sanitasie en munisipaliteite nagekom word om die gevolge van die sluiting van die kanaal te versag.

OFM Agri het vroeër berig die nasionale departement het aangevoer hul planne is in plek vir die sluiting. 

Landbouers was egter nie oortuig nie en het hul kommer uitgespreek.

OFM Agri cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.