On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Hondsdolheid-inentingsveldtog begin in Namakwa-kusgebiede

───   13:49 Mon, 16 Sep 2024

Hondsdolheid-inentingsveldtog begin in Namakwa-kusgebiede | News Article
Sowat 4 000 honde in die Noord-Kaap gaan ingeënt word teen hondsdolheid. Foto: Getty Images

“Hierdie dringende inisiatief volg ná die onlangse bevestiging van hondsdolheid in ’n Kaapse pelsrob, ’n spesie wat dikwels in noue kontak met mense en mak diere kom.”

Die Noord-Kaapse departement van landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming se veeartsenydienste is besig met ’n omvattende inentingsveldtog om ’n moontlike hondsdolheiduitbreking in die Namakwa-kusgebiede te voorkom.

“Hierdie dringende inisiatief volg ná die onlangse bevestiging van hondsdolheid in ’n Kaapse pelsrob, ’n spesie wat dikwels in noue kontak met mense en mak diere kom,” sê die departement in ’n verklaring.

Daar is verskeie Kaapse pelsrobkolonies langs die Noord-Kaapse kuslyn.

Hondsdolheid is ’n dodelike virussiekte wat aan mense oorgedra kan word deur die byt van ’n besmette dier. Simptome sluit in gedragsveranderinge, aggressie, oormatige speekselafskeiding, verlamming en uiteindelik die dood.

“Om die risiko van die verspreiding van hondsdolheid na mak diere en mense te verminder, prioritiseer die departement die inenting van honde en katte in die geïdentifiseerde hoërisikogebiede.”

Die massainentingsveldtog sal plaasvind van 16 tot 20 September in Hondeklipbaai, Koingnaas, Kleinzee, Port Nolloth en Alexanderbaai. Die departement het 8 000 dosisse entstof beskikbaar gestel om die geskatte 4 000 honde in hierdie gebiede in te ent.

“Benewens die inentingsveldtog werk die departement nou saam met die departement van bosbou, visserye en omgewing om toesig en monsterneming langs die kuslyn, waar robkolonies voorkom, te verhoog. Openbare bewusmakingsveldtogte is ook aan die gang om inwoners in te lig oor die risiko's van hondsdolheid en die belangrikheid van die inenting van hul troeteldiere.”

Hoewel daar tot dusver geen menslike gevalle aangemeld is nie tref die departement voorsorgmaatreëls om die verspreiding van hondsdolheid te voorkom en die gesondheid van diere en mense in die streek te beskerm.

OFM Agri dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.