On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

International

Paralimpiese Spele open in Parys

───   14:25 Wed, 28 Aug 2024

Paralimpiese Spele open in Parys | News Article
Ntando Mahlangu is buite aksie ná ’n motorongeluk. Foto: Facebook/Team SA

“Ek moet sê, ek is opgewonde oor wat voorlê vir Parys 2024, want om toeskouers te hê sal beslis net daardie elektriese atmosfeer skep.”

Enkele ure voor die openingseremonie van die Paralimpiese Spele in Parys begin, is die opwinding in die Franse hoofstad tasbaar.

Organiseerders meen dit sal die grootste Spele tot nog toe wees. Atlete uit alle uithoeke van die wêreld berei vir oulaas voor om hul Paralimpiese drome te verwesenlik.

Woensdagaand (28/8) se openingseremonie sal, nes dié van die onlangse Somerspele, in die buitelug wees wanneer ongeveer 65 000 toeskouers na verwagting die geskiedkundige oomblik op die Place de la Concorde en die Champs-Elysées in Parys sal aanskou.

Vanjaar neem 4 500 atlete van 168 lande aan 22 sportsoorte deel – wat rekordgetalle is.

“Ons het 1 983 vroueatlete, wat ’n rekord is. Ek dink dit is ’n geweldige prestasie as ons in gedagte hou dat ons eerste wedstryde in 1960 plaasgevind het. Om amper geslagsgelykheid in so ’n kort tyd te bereik is regtig bemoedigend. 

Rekordgetal vroueatlete

“Ek wil ons nasionale Paralimpiese komitees en ons internasionale federasies bedank vir hierdie syfer. Ons het 35 nasionale Paralimpiese komitees wat ’n rekordgetal vroueatlete na hierdie geleentheid bring. 

“Ons het 27 nasionale Paralimpiese komitees wat meer vroue as mans bring,” sê Craig Spence, Internasionale Paralimpiese Komitee-woordvoerder.


Die Paralimpiese fakkelaflos eindig Woensdag (28/8) in Parys, betyds om die vlam in die openingseremonie Woensdagaand aan te steek. Dit sal verlig bly totdat die Spele op 8 September eindig.

Span Suid-Afrika bestaan uit 37 deelnemers, wat verlede week aangekom het in die atletedorp, berig die SAUK.

Op die vorige Paralimpiese Spele in Tokio het Suid-Afrikaners sewe medaljes ingeoes, waarvan vier goud was.


Ntando Mahlangu, wat goud in die T61-200 m en T63-verspring in Tokio gewen het, neem nie dié keer deel nie aangesien hy nog herstel van ’n gebreekte nek ná ’n motorongeluk. ’n Ander gouemedaljewenner, Anrune Weyers, het ook uitgetree.

Die vierde gouemedaljewenner, Pieter du Preez, is weer in aksie in handfietsry. Du Preez het die eerste plek behaal in die padtydtoets vir mans in Tokio en sien daarna uit om post-Covid mee te ding. 

“Ek moet sê ek is opgewonde oor wat voorlê vir Parys 2024, want om toeskouers te hê, sal beslis net daardie elektriese atmosfeer skep. Ek gaan alles insit om die beste te wees wat ek kan,” het Du Preez gesê.

OFM Nuus mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.