On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Agriculture

Omgeeboer van Noordwes skitter as Mev. SA-finalis

───   ELSABÉ DE JAGER 10:02 Tue, 16 Jul 2024

Omgeeboer van Noordwes skitter as Mev. SA-finalis | News Article
Om as Mev. SA-finalis gekies te word het vir Michelle ’n kleintyddroom bewaarheid. Foto verskaf

“Deel jou sterk krag as vrou met ander. Leer egter ook uit die krag van die vroue om jou.”

“Ek het geleer dat ek myself moet liefhê. Wanneer selftevredenheid inskop, kan mens berge begin versit.”

Dié lewensles het in Michelle du Plessis (41) se hart bly sing toe sy onlangs in Emperor’s Palace in Johannesburg as een van die 30 finaliste in vanjaar se Mev. Suid-Afrika-kompetisie aangewys is. “Ek het, toe my naam uitgelees is, so vinnig soos ek kon op my hoë hakke gehardloop om my by die ander aan te sluit,” lag sy uitbundig.

‘My wings are ready’

“Die aanloop tot die glansgeleentheid het reeds op Woensdag 3 Julie begin,” vertel Michelle. Die semifinaliste, wat in Februarie aangewys is, moes voorberei vir ’n groot verhoogdans, waarin vanjaar se kompetisietema, “My wings are ready”, uitgebeeld is. Werksessies, waartydens die deelnemers touwys gemaak is vir die groot aand, is ook aangebied.

Enige vrou verdien respek en liefde, glo Michelle. Foto verskaf

Vir dié skoonheid van Delareyville in Noordwes draai die wêreld dikwels te stadig. “Ek glo vas dat ek al sedert my jeugjare onsigbare vlerke dra wat my deur die lewe laat vlieg en betyds laat land by elke geleentheid wat ek wil aangryp!”

Ná haar studiejare in Potchefstroom sprei sy toe inderdaad haar vlerke. Sy bring ’n paar jaar in wildreservate deur waar sy onder meer navorsing op luiperds doen. Vyf jaar se werk as skoonheidstegnoloog op passasierskepe volg. “Daarna het ek nog vyf jaar in Dubai gewerk voor ek na Australië geëmigreer het.”

Sy was trots op haar uitrusting wat van hoendervere gemaak is. Foto verskaf

In 2020 maak sy ’n sagte landing op ’n plaas naby Delareyville. “Danksy die man van my drome word die glitz en glam toe vir eers op die agtergrond geskuif!” Die man na wie sy vandag steeds blinkoog verwys, is Wynand du Plessis, ’n veeboer wat ook met gewasse soos mielies, sonneblomme en sojabone boer.

‘Ek het besluit om met skrophoenders te begin boer’

Natuurlik het Michelle nie lank stilgesit ná haar aankoms op Delareyville nie. “Glo dit of jy wil of nie, dit is net mooi daar waar my nuwe droom toe bewaarheid word. Ek het besluit om met skrophoenders te begin boer.”

Kort voor lank begin sy toe ook om vroue van minderbevoorregte gemeenskappe te onderrig in die kuns van hoender- en groenteboerdery.

Vir Michelle was die oomblik groot toe sy op die verhoog verskyn in verskeie uitrustings wat elkeen die vlerketema uitbeeld. Sy het gedink aan die talentvolle jong man van ’n minderbevoorregte woongebied buite haar tuisdorp, wat vir haar vlerke opgetower het uit hoendervere, ook ’n skemerkelkierok, gemaak van vere.

Op die plaasgrond van Delareyville leef sy haar boederydroom uit. Foto verskaf

“Deel jou sterk krag as vrou met ander. Leer egter ook uit die krag van die vroue om jou,” is die raad wat dié mooi boer aan elke vrou wil gee. “En,” laat sy nog vir oulaas hoor voordat ons groet, “jy as vrou maak saak.”

OFM Nuus/Elsabé de Jager cg


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.