Agriculture
Lappie groente plaas produkte binne armes se bereik─── BAMBATHA GIKO 12:23 Mon, 22 May 2023
Verbruikers sal dalk ’n groentetuin in die agterplaas moet oorweeg om stygende voedselkoste te bekamp.
Voedselinflasie styg steeds en het in Maart 2023 met meer as 14% toegeneem. Die rand wat gedurig verswak, besorg verbruikers ook hoofbrekens. Beurtkrag, iets wat voor 2008 onbekend was, is nou so algemeen soos korrupsie. Die spanning tussen die VSA en Suid-Afrika kan intussen lei tot ’n steeds toenemende probleem, nie beperk tot voedselsekerheid nie – maar ’n magdom maatskaplike probleme.
Die voedselsekerheidsaktivis Thabo Olivier sê as ’n mens jou twee fiktiewe dorpe kan voorstel, word die belangrikheid van agterplaasboerdery in die bevordering van voedselsekerheid duidelik. Terwyl een dorpie geen groentetuine tuis het nie, spog elke huishouding in die ander een met sy eie florerende tuin. Dit laat die vraag ontstaan: Waar is kos geredeliker beskikbaar?
Regering se kospakkies is nie oplossing nie
Olivier sê groentetuine op mense se erf kan ’n oplossing vir stygende voedselpryse wees. Toeganklikheid en bekostigbaarheid is nie dieselfde as voedselsekerheid nie, verduidelik hy, aangesien baie mense eenvoudig nie kos kan bekostig nie. Hy stel voor dat mense hul eie kos kweek pleks van om voor verkiesings op kospakkies van die regering staat te maak.
“Die dag wat ek kospakkies [kan uitskakel], sal ek weet ek het gewen of óns het gewen. Want jy gee iemand ’n kospakkie, gewoonlik in die twee maande voor die verkiesing, en dan wag hulle vyf jaar vir die volgende kospakkie. Daardie kospakkie hou nie eens twee weke nie. Nou wat van die 260 weke tussen die twee verkiesings? Wat moet hy dan doen? Laat die mense ook hulle eie kos kweek!”
Vra hulp om eie groentetuin te begin
Olivier sê groen vingers is nie ’n voorvereiste vir suksesvolle voedselverbouing nie. Ons voorouers kon, sonder formele onderrig, geslagte lank voedsel produseer. Hy sê wat wel belangrik is, is kapasiteit en vaardigheid. Kapasiteit word gekweek deur raad van ervare bure in te win, aanlyn hulpbronne te raadpleeg of boeke oor tuinmaak te lees. Die aanleer van vaardigheid word egter slegs deur praktiese toepassing bewerkstellig, wat begin met kleinskaalse tuinbouprojekte.
Olivier sê groente is die maklikste om te verbou, aangesien saad in amper enige supermark gekoop kan word met die aanwysings om dit te kweek agter op die verpakking.
“Die goed is alles daar. Begin klein,” vertel Olivier. Hy het eers gedog dit was ’n verkeerde besluit om klein te begin. “Toe kom ek agter dit was nié ’n fout nie. Want elke seisoen het die produksie verdubbel en binne ’n kwessie van drie jaar, toe’s my tuin heeltemal toegegroei met groente.”
Hou by munisipale regulasies vir aanhou van vee
Wat vee betref, moet mense versigtig wees omdat munisipale regulasies oorweeg moet word. Dit sal nie prakties wees om diere op jou erf aan te hou nie, want dis nie net potensiaal problematies vir bure nie, maar wie wil nou hê dat ’n troetelskaap of -varkie op hul bord beland.
“As jy vee wil hê, kyk na hoenders. Jy hoef hulle nie noodwendig te eet nie, maar terwyl hulle op jou erf is, kan jy van die eiers kry.”
Om die wanopvatting oor voedselsekerheid op te klaar, onderskei Olivier tussen voedselsekerheid, -bekostigbaarheid en -beskikbaarheid. ’n Supermark vol kos waarborg nie voedselsekerheid as die omliggende gemeenskap dit nie kan bekostig nie.
Volhoubare oplossings
Om beskikbaarheid te verseker, word ’n lewensbelangrike uitdaging wat die behoefte aan volhoubare oplossings beklemtoon. Olivier vra mense moet bemagtig word om hul eie kos te kweek, met verwysing na die potensiaal vir winsgewendheid. Deur vergelykings te tref met suksesvolle ondernemings wat nederig begin het, soos Bill Gates se ondernemings wat in ’n motorhuis begin het en Ouma Beskuit, word die potensiaal vir agterplaasboerdery as ’n bron van inkomste en entrepreneurskap duidelik.
Tydens ’n paneelbespreking oor agripreneurskap by die onlangs Bloemskou het Maribe Mamabolo van die Noordwes-Universities Besigheidskool en Keith Fransch van die Instituut vir Landelike en Gemeenskapsontwikkeling die konsep bespreek om groente wat in die agterplaas gekweek word in ’n volhoubare onderneming te omskep.
Jou agterplaas is groot genoeg
In die gesprek is die uitdagings aangeroer wat jong mense in die gesig staar om die landboubedryf te betree. Die deelnemers het die heersende ingesteldheid dat landbou aansienlike tyd en moeite verg om finansiële belonings te lewer, weerlê deur die belangrikheid te beklemtoon van slim werk en die idee te ontmasker dat landbou uitsluitlik vir diegene met uitgebreide grond en hulpbronne is.
Hulle het ook ’n stap-vir-stap benadering voorgestel om aspirant-mikroboere te ondersteun. Maribe sê mense begin met agterplaastuine, oftewel “mikroplase” en volgens Fransch, kan individue opleiding en leiding ontvang deur programme soos dié wat Agriseta aanbied. Soos hulle vorder, kan hulle oorgaan daartoe om ondersteunde kommersiële boere te word, toegerus met die nodige kennis en vaardighede om sukses te behaal.
Bemagtig individue om eie kos te kweek
Die deelnemers het erken hoewel kommersiële boerdery deurslaggewend is, hoef almal nie na grootskaalse bedrywighede te mik nie. Maribe het beklemtoon hoe belangrik dit is om die waarde in selfs die kleinste landbou-ondernemings te erken. Deur individue te bemagtig om hul eie kos te kweek en inkomste te genereer, kan armoede op voetsoolvlak verlig word. Hulle het gevra vir ’n verandering in ingesteldheid wat individue aanmoedig om beheer oor hul eie lot te neem en hul bestaande hulpbronne te benut.
“My uitgangspunt is om mense te laat besef, selfs met jou lappie grond agter jou huis kan jy iets doen. Want mense staan tou vir R350 per maand. Kry dit en plant ’n paar goed en kweek kool, spinasie, wat jy ook al moet, en kom dalk uit die siklus om ooit daardie R350 nodig te hê.”
Jeug word benadeel deur toelaestelsel
Hy meen dis hoe armoede uitgeroei kan word. “Ons het nie massas grond nodig nie, ons het nie berge geld nodig nie, ons bewerk net. Ons hoef jou nie eens ’n entrepreneur te noem nie.”
Fransch het ook die nadelige uitwerking van die toelaestelsel op die jeug bespreek, wat ’n kultuur van afhanklikheid eerder as selfvertroue bevorder.
“Die toelaestelsel het luiheid onder die jeug aangemoedig,” sê hy en erken hy veralgemeen, “maar dit is iets waarna ons moet kyk. Jong meisies raak swanger op die ouderdom van 17–18, drie kinders later en hulle het ’n paar duisend in hul sak. Is dit nie ’n goeie manier om geld te maak nie?”
Dis vir hom hartseer dat dit “’n maklike manier om geld te maak” geword het. “Ek het al na die ou gekyk wat by die Poskantoor staan toe toelaes uitgegee is. Daar was sewe of agt bejaardes, die res was jeugdiges … vir R350.
Plant nou eet later
“As ons die idee kan uitskakel dat boerdery iets ver van jou af is, dat dit veronderstel is om heeltyd groen op jou plaas te wees, is dit nie boerdery nie,” sê Maribe. “As jy bereid is om soveel ure af te staan om vir ’n R350-toelae te wag, belê ewe veel moeite in jou eie groentetuine en kyk wat gebeur.”
“Daar sal ’n tyd kom wanneer net diegene wat plant, sal kan eet,” waarsku Olivier.