Central SA
Babbelbekkies-hoof glo ’n gelukkige skoolloopbaan is binne elke kind se bereik─── ELSABÉ DE JAGER 16:48 Wed, 15 Jan 2025
“Wat van jy probeer ’n nuuskierige lewenslange leerder grootmaak wat die lewe bevraagteken en nie noodwendig altyd saam met die groepdenke beweeg nie?”
Annemari Strauss, breinprofielpraktisyn van Pretoria, maak hierdie voorstel aan onder andere die vele ouers wat vandeesweek hul kinders terug, of dalk vir die eerste keer, by die skoolhek moes groet.
Met dié dat kinders se geestesgesondheid afneem en hul angstigheid toeneem, sal sy “veel eerder ’n gemiddelde, kreatiewe, lewenslange leerder en omgeekind grootmaak as om ekstra prestasiedruk te plaas en hoë verwagtinge te koester”.
‘Mammas neem gewoonlik moeiliker afskeid as die kleuters’
Vir Hannetjie van Dalen-Olivier, skoolhoof van die Babbelbekkies-kleuterskool in Universitas, Bloemfontein, is dit ’n voorreg om nie net die kleuters nie, maar ook die ouers gereed te maak vir hul kinders se skoolloopbaan.
“Ons skool vier vanjaar sy mondigwording en ons sien uit om dié wonderlike geleentheid saam met ons 22 Babbelbekkies, almal tussen drie en vyf, en hul ouers te vier!”
Aan die begin van die skooljaar neem die mammas gewoonlik moeiliker afskeid as die kleuters. “Ons probeer as ’n reël om sélf die kinders buite te ontvang en in te bring,” vertel sy.
Tydens die Oupa-en-Oumadagviering by Babbelbekkies kleuterskool word erkenning gegee aan alle grootouers se liefde en omgee. Foto verskaf
Dis vir haar belangrik dat die ouers – wat elkeen op ’n unieke manier deur ’n aanpassingsfase gaan wanneer die kuikens die nes verlaat – ook op hul gemak gestel word en, veral aan die begin, gerusgestel word dat dit goed gaan met hul kind.
“Deur die loop van die oggend neem ons foto’s wat ons vir Mamma stuur om vir haar te wys haar kleuter is rustig en gelukkig.”
Die bekkige klein Esmené Jansen van Rensburg (6) het uitsien ná die groot skool om wiskunde te leer, “want ek wil soos my pappa in die bank werk met baie geld”. Ná haar eerste skooldag aan die Laerskool Jim Fouché in Bloemfontein was sy baie opgewonde om te vertel dat sy selfs baie méér as wiskunde gaan leer.
‘Ingestel daarop om die kleuters in hul voorskoolse jaar gereed te kry vir gr. 1’
Haar ma, Chantell, stem saam met Van Dalen dat dit altyd – selfs met jou twee of derde kind – moeilik is om hulle vir die eerste keer by die skool af te laai. “Dit is mos nou veronderstel om makliker te wees aangesien ek reeds die pad met haar ouer sussie geloop het.
“My hart is egter seer by die besef my baba is nou nie meer ’n baba nie,” verwoord Chantell talle ouers se gevoel. Vir haar is dit egter ook ’n tyd vol opwinding. Sy en pa Kobus sien daarna uit om te sien hoe hul jongste haar vlerke sprei en haar “eie mens” word.
Van Dalen-Olivier is daarop ingestel om die kleuters in hul voorskoolse jaar gereed te kry vir gr. 1. “Wanneer hulle hier weggaan, moet hulle hulself kan handhaaf en met vertroue kan optree.
Vir Kobus en Chantell Jansen van Rensburg is dit goed om te weet die twee sussies, Chanté en Esmené geniet nou hul skoollewe saam. Foto verskaf
“Ons werk aan hul selfbeeld. Ons volg ook ons jong (leerders) op die pad wat hulle vorentoe stap.
“Ons werk tog hier met die leiers van die toekoms. Hulle word vir ’n kort tydjie vir ons geleen. In hierdie tyd berei ons hulle stap vir stap voor op die toekoms wat vir hulle wag.”
Met die eerste skooldag agter die rug en kinders reeds hard aan’t werk, is Chantell en Kobus se gerusstellende wens dat Esmené en haar ousus, Chanté (10), krag sal kry om elke uitdaging met selfvertroue en wysheid aan te durf.
Vir elke Babbelbekkie is die gradeplegtigheid ’n groot hoogtepunt. Graad 1 word dan ’n werklikheid. Foto verskaf
“Luister gerus na jou kinderhartjie. Onthou altyd dat jy uniek is. Ons is baie lief vir jou en baie trots op jou.”
Strauss se woorde aan elke ouer, ’n herinnering om saam deur hul skooljare, is om tyd saam deur te bring: “Ons basiese menslike behoefte is konneksie. Om nie deursigtig te voel nie en om ‘raakgehoor’ en raakgesien te word.”