On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse kleuter se kuns pryk in Louvre-museum

───   ELSABÉ DE JAGER 09:01 Wed, 15 Jan 2025

Vrystaatse kleuter se kuns pryk in Louvre-museum | News Article
Die klein kunstenaar skilder omdat dit haar bly maak. Foto verskaf

“Om te verf maak my hartjie die meeste bly!”

Met hierdie uitspraak verkondig klein Milan Badenhorst (4) van Ladybrand, sonder om te skroom, haar liefde vir kuns aan almal wat wil hoor.

Milan se ouers, Wynand en Karin, het onlangs die goeie nuus ontvang dat haar tekening “Window”, wat ingeskryf is vir die Gasca-IAP French Louvre Exhibition Competition, gekies is om deel uit te maak van dié spesiale uitstalling in die Louvre-museum in Parys, Frankryk.

“Ons praat hier van tekeninge teen my huismure tot binne-in die Louvre!” skerts Karin.

Vele skilderye van Milan het hul ontstaan teen die huis se kamermure gehad. Foto verskaf

Die tema van die kompetisie was omgewingsbeskerming, vertel Karin. “Dit was moeilik om een tekening uit al haar kunswerke te kies. Ons keuse vir die inskrywing het geval op ’n tekening van ’n venster. Milan het vir my verduidelik dit is ’n ou venster vol gate. Wanneer sy daardeur kyk, sien sy al die bome.”

Vir Karin was dit ’n goeie keuse, aangesien dit daarop dui dat beskerming van die omgewing reeds in die huis begin.

Milan, ’n leerling aan die Gouelokkies-kleuterskool op Ladybrand, geniet saam met haar kleinboet, Wynand (2), die vryheid van die buitelug op ’n plasie buite die dorp.

Milan geniet die lewe saam met pa Wynand, ma Karin en kleinboet Wynand (2). Foto verskaf

“Verlede jaar, toe ons besef sy beskik regtig oor ’n kunstalent, het ons besluit om haar in te skryf by die Ladybird International Arts Academy hier op die dorp,” vertel Karin. 

“Ons kon nie ’n beter kunsonderwyser as Thandi Sliepen vra nie. Sy hou haar oog op die werk, sy gee leiding, maar dwing glad nie ’n spesifieke (styl) op die leerders af nie.”

Vir Ronel Henning, direkteur van die kunsteakademie, was die stigting daarvan ’n lewensdroom wat bewaarheid is. Nadat sy twaalf jaar as begeleier vir die Drakensbergse Seunskoor opgetree het, het sy besef die tyd is reg om haar op Ladybrand te vestig en met haar groot nuwe taak te begin.

“Ladybrand is geleë op die voorstoep van Lesotho. Groot internasionale groepe mense kom werk in Maseru. Hulle wissel van ambassade- tot fabriekwerkers.”

Milan het tydens die teken van hierdie prent deur die venster na die bome gekyk. Foto verskaf

Henning vertel een van die groot voordele hiervan is dat heelparty buitelanders, soos huweliksmaats van die diplomatieke korps, as dosente aan Ladybird werk. So is ’n groot deel van haar studente ook buitelanders.

Henning glo sterk aan die filosofie van informele onderwys. “Die basis hiervan is dat dit die unieke omgewing van elke student as ’n individu, sy of haar individuele belangstelling en lewenservaring in die kunste omvat. Dit leer die kinders innoverend dink. Dit kweek ook ‘artistieke burgerskap’,” verduidelik sy.

Op 7 Februarie sal Milan se kunswerk te sien wees in die Louvre-museum in Parys. Die algehele wenner van dié kompetisie word op dieselfde dag aangekondig. Karin wens haar ma, Corrie van Rensburg, kon dié besonderse prestasie van haar kleinkind saam met hulle geniet het.


Van Rensburg, self ’n kunstenaar en vroeër jare kunsonderwyseres, kuratrise van die Oliewenhuis-kunsmuseum en werksaam by die Johannes Stegmann-kunsgalery in Bloemfontein, is oorlede toe Karin nege jaar oud was. 

“Toe ek sien hoe Milan teen al die mure in die huis staan en verf, het ek aan my ma gedink wat sommer deurnag gewerk het aan ’n olieverfskildery teen die muur bokant die kaggel.”

Die laaste woord kom van die bekkige kunstenaartjie self. Op Karin se vraag waarom Milan uitsien na haar kunsklasse vanjaar, antwoord sy met oorgawe: “Want dis lekker vir my in my hartjie!”

OFM Nuus/Elsabé de Jager cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.