Central SA
Drie sterf in vlammende botsing buite Smithfield─── 12:01 Wed, 15 Jan 2025

’n Verwoestende trompop botsing Dinsdag (14) op die N6-hoofweg het die lewens van ’n vrou en twee mans geëis, terwyl ’n vierde persoon met beserings in die hospitaal opgeneem is.
Arrive Alive berig ’n wit Toyota Quantum-minibustaxi het met ’n Scania-vragmotor en sleepwa gebots, sowat 3 km buite Smithfield.
Foto: Facebook/Arrive Alive
Die vragmotor, wat van die Oos-Kaap na Bloemfontein onderweg was, het weens die impak van die ongeluk omgeslaan en toe aan die brand geslaan. Foto’s wat op die ongelukstoneel geneem is, toon bolle swart rook wat die lug in trek.
Die taxi, wat in die teenoorgestelde rigting gereis het, het aansienlike skade opgedoen. Volgens foto’s wat op die ongelukstoneel geneem is, lyk dit asof die taxi se kante afgeskeur is.
Foto: Facebook/Arrive Alive
Mediese nooddienste het drie mense op die toneel dood verklaar, onder wie twee mans en ’n vrou. ’n Pasiënt is na die Stoffel Coetzee-hospitaal vir verdere behandeling geneem.
Die N6-hoofweg was in albei rigtings gesluit weens die ongeluk en motoriste moes ompaaie gebruik. Beamptes van die provinsiale verkeersafdeling, munisipale verkeer, polisie en forensiese eenhede was op die toneel om bystand te verleen en die oorsaak van die ongeluk te bepaal.
Foto: Facebook/Arrive Alive
In ’n latere ongeluk waaroor Arrive Alive berig het, het ’n vragmotor Dinsdagaand sowat 10 km buite Ventersburg in die rigting van Winburg aan die brand geslaan. Motoriste is gewaarsku om pad te gee vir noodvoertuie wat na die toneel onderweg was en om instruksies van noodpersoneel en verkeersowerhede te volg.
Dit is nie duidelik of mense in dié ongeluk beseer is, óf wat die ongeluk veroorsaak het nie.