Central SA
Bloemfonteiner is Tafelberg-kabelkar se 32 miljoenste besoeker─── 10:21 Wed, 15 Jan 2025
Tafelberg se kabelkar het sedert die amptelike opening in 1929 reeds 32 miljoen besoekers verwelkom en die 32 miljoenste een was sowaar ’n Vrystater, Gavin Beckmann.
Gerda Pretorius, ook van Bloemfontein, was verlede jaar die 31 miljoenste besoeker aan Tafelberg.
Die Tafelberg-sweefspoormaatskappy het Dinsdag (14/1) dié mylpaal op al sy sosialemediabladsye aangekondig.
“Ons is baie opgewonde om Gavin Beckmann van Bloemfontein, ons 32 miljoenste besoeker, by die ikoniese Tafelberg-kabelkar te verwelkom!” sê die maatskappy op sy Instagram- en Facebookbladsye.
Gerda en Loot Pretorius. Foto: Tafelberg-sweefspoormaatskappy
Beckman het twee toegangskaartjies, kaartjies vir middagete vir twee en koopbewyse wat hy by die restaurant en geskenkwinkel bo-op Tafelberg kon gebruik het, ontvang.
OFM Nuus het destyds berig dat Pretorius en haar man, Loot, in die ry gestaan en wag het om op die kabelkar te klim, toe sy uit die ry gehaal is, ’n bos blomme in die hand gedruk is en meegedeel is dat sy die 31 miljoenste besoeker is.
“Ons was meer as 30 jaar laas op Tafelberg en vandag was ’n baie lekker verrassing. Dankie dat julle ons baie spesiaal laat voel het terwyl ons my 69ste verjaardag (op 24 Januarie) vier,” het Gerda gesê.
’n Bewoë David Bester reis met die kabelkar na sy destydse huis bo-op Tafelberg. Foto: Good Things Guy
Ook in Januarie 2024 het David Bester na Tafelberg teruggekeer om op die kruin sy 79ste verjaardag te vier. Hy het destyds as baba daar gewoon.
In 1944 is hy as twee weke oue baba die berg opgeneem, die eerste baba wat met die kabelkar gereis het. Die Good Things Guy-webwerf het berig dat Bester se ouers bo-op die berg gewoon het terwyl sy pa as die kabelkaroperateur gewerk het.
“Dit was ’n roerende ervaring om weer my jeughuis te sien,” vertel Bester. Hy het elf “heerlike” maande op Tafelberg gewoon totdat sy ouers besluit het dit is “te gevaarlik” om ’n kruipende kleuter bo-op ’n 1 067 m hoë berg te hê.