Central SA
Groot tasse en nog groter opwinding wag op gr. 1’s─── 11:05 Wed, 15 Jan 2025
Bloemfontein se gr. 1-haasbekkies was Woensdag baie opgewonde oor hul eerste dag in die “groot skool”. Met tasse amper groter as hulle lyfies en ’n hele paar tande wat uit is, was die vreugde en opwinding groot.
OFM Nuus het met ’n paar van hulle by die Laerskool Willem Postma in Bloemfontein gesels.
G.F. de Wet (6) sê hy is baie opgewonde om gr. 1 toe te gaan. Hy is wel ’n bietjie bang. Maar om sy maats van die vorige jaar te sien gaan baie help. “Ek wil ook graag nuwe maats ontmoet.”
G.F. sien baie uit daarna om te begin met sport. Hy dink ook die skoolklere is baie mooi om elke dag te dra, maar is effe benoud dit gaan dalk ongemaklik raak. Hy is die jongste van Gallie en Nadia de Wet.
G.F. de Wet. Foto verskaf
Die sesjarige tweeling, Mia en Lida Auret (hooffoto), praat byna uit een mond. Hulle is baie opgewonde om met groot skool te begin en hulle maats te ontmoet.
Dit is ook die eerste keer wat hulle nie in dieselfde klas gaan wees nie, en hulle is altwee nuuskierig om te weet hoe dit gaan voel sonder die ander een. Mia en Lida sien uit daarna om die skoolklere te dra. Hulle hoop wel om gemaklik daarin te voel.
Om hulle juffrouens te ontmoet is ook iets waarna hulle baie uitsien en hoe die klas lyk. Die tweeling is die jongste van Hendrik en Marnel Auret.
Amelie Viljoen. Foto verskaf
Vir Amelie Viljoen (6) is een van die grootste voorregte wat wag om elke dag dieselfde as haar ouer sussie, Leila, in gr. 4, te lyk. “Ek sien so uit na die skoolklere sodat ek soos my sussie kan lyk.”
Amelie kan ook nie wag om nuwe maats te maak nie en haar juffrou te ontmoet nie. “Ek sien baie uit om met graad een te begin.”
Amelie is die jongste spruit van Dirk en Leana Viljoen.
Lukas Verkes. Foto verskaf
Lukas Verkes (6) is net so opgewonde om “groot skool” toe te gaan. Hy sien uit daarna om elke dag te gaan en dink nie hy gaan moeg raak daarvoor nie.
“Ek is baie bly om te gaan. Ek kan nie wag om op die rugbyveld te speel nie. Dit gaan my baie bly maak.”
Hy is die jongste van Willem en Natalie Verkes.
OFM Nuus het St Michael’s in Bloemfontein besoek en met die opgewonde gr. 1’s gesels. Daar was baie aspirant-dokters, maar daar was ook ander interessante beroepskeuses:
Luthando het gesê sy wil probeer hokkie speel en wanneer sy groot is, wil sy 'n dokter word. “Ek het 'n lekker dag by die skool gehad en ek het nuwe vriende gemaak.”
Klein Luhle het gesê wanneer sy groot is, wil sy ’n sakevrou word en sy wil graag vanjaar basketbal probeer.
Letlolo het gesê sy droom daarvan om ’n popster te wees wanneer sy groot is en wil probeer hokkie speel.
Mbali het gesê sy sal graag ’n reënboog en ’n dokter wil wees wanneer sy groot is, wat baie interessant is.
Hlompho wil ’n sanger word wanneer sy groot is en wil probeer hokkie speel.
Tlholohelo, Lesedi, Lulonke, Ponahatso, Luthando, Mantea, Bahumi, Hlompho, Luhle, and Letlotlo. Foto’s: Mark Zion
OFM Nuus het ook die gr. 1’s by St. Andrew’s besoek en met van hulle gesels. Hulle het net sulke opwindende loopbaankeuses gehad.
Rene Thobane, Luke Whittemore, James van Soelen, Isago Moreothata, and Duncan Pentz. Foto’s: Mark Zion
Rene wil ’n polisieman in Amerika wees, Isago wil graag ’n krieketspeler wees, James wil ’n kunstenaar word, en Luke wil graag ’n ambulansman wees wanneer hy groot is.