Central SA
Harte huil oor vermiste steekhaarterriër van Potchefstroom─── 12:30 Thu, 09 Jan 2025
’n Honde-eienaar van Noordwes sê as enigiemand haar geliefde troeteldier gevat het omdat hulle dink hulle bewys Dusty ’n guns, maak hulle ’n groot fout.
“Dusty het vier weke gelede geboorte gegee,” vertel Joanita Walstrand in trane. “Haar babas wag vir haar.
“Sy is baie geliefde troetelkind in ons huis en word baie goed versorg.”
Die driejarige is ’n wit steekhaarterriër met bruin kolle. “Dié honde lyk weens hul voorkoms maar onversorgd en verwaarloos; miskien het iemand gedink sy is ’n rondloperbrak, maar sy is nie.”
Dusty se babas wag vir haar. Foto: Potchefstroom Herald
Die gesin woon op ’n plaas aan die R54 op na Vereeniging, naby die Atlantic Oil-vulstasie.
“Ons het saam met vriende by die rivier gaan kampeer. Werkers het Dusty nog Woensdagmiddag (8/1) vieruur gesien, maar toe my ouers twee uur later kom om haar toe te maak vir die nag, was sy nêrens te vinde nie.
‘My seun se hart is gebroke’
“Ons het alles net so gelos om haar te kom help soek. My man is vandag (Donderdag) terug rivier toe om ons goed te gaan haal.
“My seun se hart is gebroke. Dusty het ’n super-duper-persoonlikheid, ons is baie lief vir haar.”
Die gesin bied ’n beloning aan vir Dusty se veilige terugkeer. Enigeen met inligting word gevra om Joanita by 0823020412 te skakel.
Dusty is die Walstrand-gesin se baie geliefde troetelkind. Foto: Facebook
Maak só as jou hond wegraak:
- As jou hond vermis word, laat weet onmiddellik die plaaslike DBV en veeartse en gee jou hond daar as vermis aan.
- Druk pamflette met foto’s en gedetailleerde inligting van jou hond, asook kontakbesonderhede en die datum waarop hy vermis geraak het en versprei dit in jou omgewing.
- Sosiale media is baie nuttig om dit onder ander mense se aandag te bring.
- Verlore honde met mikroskyfies word gouer met hul eienaars herenig. Maak seker dat jou hond se mikroskyfiebesonderhede op datum is, en as jou viervoetige vriende nog nie skyfies het nie, reël dadelik met jou naaste DBV.
- Oorweeg om die polisie te nader. As jy vermoed jou hond is gesteel, dien ’n klagte in by jou plaaslike polisiekantoor.