Central SA
Skoolverlaters in Sentraal-Suid-Afrika vol vertroue oor nuwe horisonne─── ELSABÉ DE JAGER 15:30 Thu, 09 Jan 2025
Skaars drie maande gelede het skoolliedere vir oulaas oor rugbyvelde weergalm.
Onderwysers en matrikulante het trane weggevee en daar is vir ’n laaste keer ingeloer by klaskamers waar hulle as onseker gr. 8’s gewonder het of hulle ooit die wedloop sal kan voltooi. Op 12 Oktober het hul laaste skooleksamen in alle erns begin.
Woensdag (15/1) maak Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, die uitslae bekend van die 882 336 matrikulante wat einde verlede jaar die Nasionale Senior Sertifikaateksamen afgelê het. Vele ouers en hul kinders dink in dié tyd terug aan 12 jaar wat verbygevlieg het.
Vir Hanneke Lubbe is dit van groot belang dat Greta altyd sal weet haar familie staan bankvas agter haar. Foto verskaf
Greta, dogter van Hanneke Lubbe, algemene bestuurder van die Siësta-aftreeoord en Bloemfontein Hospice, het pas haar skoolloopbaan aan Eunice High School in Bloemfontein afgesluit. “Wat my altyd van Greta sal bybly,” vertel haar ma, “is hoe sy daarin geslaag het om ten volle aan te pas by talle veranderinge waardeur sy tydens haar skoolloopbaan moes gaan.
“Sy was vir die eerste drie jaar van haar skooltyd in ’n Duitse skool, toe oorgeskuif na ’n Afrikaanse laerskool en laastens na ’n Engelse meisieskool. Die gevoel wat ek telkens ervaar het, dat sy ‘goed aangekom het’, beskou ek, haar ma, as ’n hoogtepunt.”
Verruil Bloemfontein vir Stellenbosch
Greta (18), géén onbekende op die Vrystaatse en ook landwye verhoë nie, waar sy dikwels as aktrise haar passie vir toneelspel uitleef, is opgewonde oor haar keuse van studierigting. Sy verruil Bloemfontein binnekort vir Stellenbosch, waar sy vir ’n B.A. (Drama en Teaterstudie) aan Maties ingeskryf is.
Greta is dankbaar vir haar familie wat haar bystaan en saam met haar opgewonde is oor haar loopbaankeuse. “Daar word steeds vandag van baie jong mense deur hul families verwag om bloot ’n sekere, soms geykte studierigting te volg. Baie matrikulante is ook onbewus van die groot verskeidenheid studierigtings wat bestaan,” meen sy.
‘Dalk my eie spraakterapiepraktyk’
Cyanne Kruger (18), oudleerling van Bloemfontein, voel oortuig haar besluit om vanjaar ’n brugjaar te maak, is die regte een. “So baie van my vriende het in die verlede van kursus verander omdat hulle aanvanklik toegegee het aan familiedruk en toe die verkeerde kursus, hetsy aan ’n universiteit, kollege of ander instelling, gekies het.
“Psigometriese evaluasie het getoon dat ek aangelê is vir vier verskillende rigtings: landbou, sportwetenskap, onderwys sowel as ondersteunende medisyne.”
Cyanne het die geleentheid om vanjaar haar pa in sy konstruksiemaatskappy met administratiewe take by te staan, met albei hande aangegryp. “Hier kan ek leer hoe om ’n besigheid te bestuur.
“Ek wil eendag graag my eie besigheid hê. Tans dink ek aan my eie spraakterapiepraktyk, wie weet? Ek gaan ook vanjaar die tyd gebruik om sommige middae as au pair te help met die versorging van jong kinders.”
Vir Géorg Fritz is dit belangrik om steeds in die komende jare sy stokperdjies, veral skaak, te geniet. Foto verskaf
Thelmarie Fritz, verbonde aan die digitale opleidingsafdeling van ’n bekende bankgroep, woon op Heidelberg, Gauteng. Sy maak geen geheim daarvan nie dat die emosies haar kort-kort oorweldig wanneer sy dink aan Géorg (18), haar oudste seun, wat oor ’n paar weke Potchefstroom toe vertrek.
Sy wéét egter dit sal met dié voornemende meganiese ingenieur goed gaan aan die Noordwes-Universiteit. “My wens is dat hy die waardes wat hy 18 jaar lank onder ons dak geleer is, ook daar in sy nuwe tuiste sal toepas en uitleef,” sê sy.
Géorg, wat sedert sy geboorte saam met sy ouers en grootouers op hul familieplaas buite Heidelberg woon, sien kans vir die uitdagings wat sy studierigting aan hom gaan stel. “Reeds sedert my kleintyd stel ek belang in die meganika van karre en vliegtuie.
Géorg, met sy liefde vir vliegtuie, is oortuig daarvan dat meganiese ingenieurswese die regte studierigting vir hom sal wees. Foto verskaf
“Dit het definitief ’n groot rol gespeel in my studiekeuse. Wie weet, dalk maak ek vir myself ’n deur oop na ’n Formule Een-span of na SpaceX!” skerts hy.
Uit die gesprekke met dié ambisieuse jong mense blyk dit dat daar wel ook ’n verlange sal wees aan die jare wat was. “Ek gaan die skoolvriendskappe mis, die interaksie met daardie vriende wat nie noodwendig jou vriende buite skoolure was nie, daardie klasvriendskappe, die gelag….” voorspel Greta.
Lewe is ’n reis
Géorg is dankbaar vir die vriende wat saam met hom Noordwes toe verhuis: “Vyf van my matriekmaats trek in blyplekke in baie na aan die woonstel wat ek gaan huur. Dit gaan baie help!”
Vir die selfstandige jong mense van ons land, wat op die drumpel van nuwe drome, verantwoordelikhede, werklikhede staan, bly daar dalk een laaste gerusstelling oor, dié van ’n geliefde kleintydse karakter, Winnie the Pooh: “Die lewe is ’n reis wat gelééf moet word, nie ’n probleem wat opgelos moet word nie.”