Central SA
Familie vra hulp vir beseerde jong man in Vrystaatse hospitaal─── ELSABÉ DE JAGER 13:26 Thu, 09 Jan 2025
“Hy was Maandagoggend in ’n fratsongeluk. Het van ’n hoogte af geval en sy rug, arm en been sleg gebreek. Ons vra uit ons hart uit vir enige hulp.”
Dit is die noodkreet van die familie van Alex Heyns (29), ’n elektrisiën, oorspronklik van Middelburg, Oos-Kaap. Heyns, eienaar van Tridan Electrical, is Maandagoggend (6/1) ernstig beseer tydens die herstelwerk aan ’n elektriese fout aan ’n kragpaal. Hy het 10 m ver geval.
Heyns, wat nie tot ’n mediese fonds behoort nie, maar ’n Bloemfonteinse adres het omdat hy dikwels hier werk, is in die Pelonomi-hospitaal opgeneem. Hy moet minstens twee operasies ondergaan.
Alex se hersteltyd kan tot ses maande duur. Foto verskaf
“Omdat hy op ’n waglys is vir die nodige chirurgie, kan hy tot twee weke daarvoor wag. Ons mikpunt is om geld in te samel om al die mediese uitgawes te dek en hom ook na ’n privaat hospitaal te laat oorplaas,” sê Annelize Heyns, sy ma.
Sy meen die beraamde mediese uitgawes, wat chirurgie, versorging en nasorg soos fisioterapie insluit, kan tot R2,5 miljoen beloop. Alex se hersteltyd kan tot ses maande duur. As kontrakteur sal hy in dié tyd geen inkomste hê nie.
“My groot, groot kreet is om my seun en sy vrou, Chanelle, met wie hy op 2 November getroud is, te help in hierdie moeilike tyd,” pleit Annelize by die gemeenskap. “Enige bydrae sal help om hom spoedig weer op die been te kry en voort te gaan met sy besigheid, waarop hy só trots is.”