On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Orkney-oordeienaar se vermeende aanranders weer in Februarie voor hof

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:30 Thu, 09 Jan 2025

Orkney-oordeienaar se vermeende aanranders weer in Februarie voor hof | News Article
Marc Hanscombe van Hanscombe’s Haven by Orkney. Foto: Facebook/Marc Hanscombe

Drie mans van Noordwes wat van poging tot moord aangekla word in verband met die aanranding van ’n dagoordeienaar, moet weer laat volgende maand in die hof verskyn.

Hanyane Ronauld Mei (47), Danile Nxamakele (35) en Pitso Radebe (47) het Woensdag (8/1) voor Orkney se landdroshof verskyn waar borgtog van tussen R1 000 en R1 500 elk toegestaan is, sê Sivenathi Gunya, Noordwes se NVG-woordvoerder.

Die verdagtes is op borgtog vrygelaat aangesien die saak nog ondersoek word, sê die NVG. Hulle sal na verwagting weer op 24 Februarie in die hof verskyn.

Die aanklagte spruit uit ’n voorval op 16 Desember, Versoeningsdag, by die Hanscombe’s Haven-mark op Orkney.

Verdagtes dan hof toe ná aanranding op oordeienaar van Orkney | News Article

’n Skermgreep van die voorval. Marc Hanscombe is derde van regs. Foto: Facebook/Petrus Phakamile Sitho

Die mans het na bewering vir Marc Hanscombe (53) aangeval nadat hy ’n groep besoekers opdrag gegee het om Hanscombe’s Haven te verlaat. Die besoekers is blykbaar herhaaldelik gewaarsku teen die onwettige gebruik van ’n waterpyp op die eiendom.

Die konfrontasie het gewelddadig geraak toe Hanscombe na bewering aangerand en meermale met ’n skerp voorwerp gesteek is. Hy is na die hospitaal gehaas, waar hy in die waakeenheid gebly het tot sy ontslag op 23 Desember.

Ná die aanval het vier individue wat met die beskuldigdes verbind word, klagte van aanranding teen Hanscombe ingedien, waarna Hanscombe se seun ’n soortgelyke teenklag aanhangig gemaak het.

Hanscombe’s Haven het ’n swembad, dam, rivier, kinderpark, snoepwinkel, braaiplekke, kroeg en ander geriewe. Foto: Facebook

’n Video van die voorval waarin gesien kan word hoe Hanscombe deur die groep aangeval word, het vinnig op sosiale media versprei. 

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.