Central SA
Infeksie eis twee kameelperde in Bloemfonteinse reservaat─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:20 Thu, 09 Jan 2025
Twee kameelperde in die Naval Hill-natuurreservaat in Bloemfontein is dood, blykbaar weens ’n skielike bakteriële infeksie.
Kariba (5) en Zuri (4), wat in April 2023 in die reservaat vrygelaat is, is binne dae ná mekaar dood.
Volgens Andri Grobbelaar, voorsitter van die Friends of Franklin, is die kameelperde Saterdag (4/1) en Woensdag (8/1) dood weens ’n bakteriële infeksie wat deur Clostridium novyi en Clostridium chauvoei veroorsaak is.
Hierdie bakterieë, wat algemeen in grond en die spysverteringskanale van diere voorkom, is gewoonlik onskadelik onder normale toestande. Langdurige droogtes, gevolg deur reënval, kan egter uitbrekings veroorsaak aangesien nuwe plantegroei die bakterieë se groei aanmoedig.
Kariba, toe sy by die reservaat aangekom het. Foto: Friends of Franklin
“Die gifstowwe wat deur hierdie bakterieë vrygestel word, veroorsaak vinnige siekteprogressie, dikwels sonder voorafgaande simptome,” sê Grobbelaar. “Ongelukkig is terapeutiese intervensies ondoeltreffend, wat tot skielike sterftes lei.”
Aanvanklik is bespiegel dat die kameelperde moontlik deur weerlig getref is tydens ’n storm Vrydag, maar nadoodse ondersoeke deur veeartsenykundige spesialiste het dit uitgesluit.
’n Inwoner, wat verkies om naamloos te bly, het Naval Hill Sondag besoek en was geskok oor die toestand van die diere. Sy beweer al hul waterbakke was leeg. “Dit is kommerwekkend dat die kameelperde aan ’n bakteriële infeksie dood is.
“Net ’n week gelede het ek gesien in watter swak toestand hulle is. Dit lyk asof niemand verantwoordelik gehou word vir hul sorg nie, en dit is nie die eerste klagtes oor die diere se welstand nie. Ek voel al die diere daar moet hervestig word.”
Grobbelaar sê egter in reaksie deur die hele droogte het Mangaung-metro en Friends of Franklin aanvullende voeding verskaf. Waterbakke is glo deur toegewyde personeel geïnspekteer en onderhou om die diere se welsyn te verseker.
Omgewingsfaktore ondersoek
In die nasleep van hierdie tragedie het albei organisasies onderneem om die omgewingsfaktore te ondersoek wat tot die uitbreking bygedra het. “Dit sal die evaluering van potensiële inentingsprotokolle insluit en konsultasie met vooraanstaande wildveeartskundiges om die risiko van soortgelyke voorvalle in die toekoms te verminder,” sê Grobbelaar.
“Kariba en Zuri se dood is ’n groot verlies vir beide die reservaat en die breër bewaringsgemeenskap.”