On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Bek-en-klouseer: KZN-uitbreking kommer vir Vrystaat

───   ELZETTE BOUCHER 05:00 Mon, 17 Mar 2025

Bek-en-klouseer: KZN-uitbreking kommer vir Vrystaat   | News Article
Foto: Getty Images

Veeboere word aangemoedig om waaksaam te bly en enige vermoedelike gevalle van bek-en-klouseer dadelik by die staatsveearts aan te meld.

Met die uitbreking van bek-en-klouseer in KwaZulu-Natal, word daar kommer uitgespreek oor die impak van die siekte op die veesektor. PD Cilliers, voorsitter van die dieregesondheidsforum van die Vrystaatse RPO, het met OFM gesels oor die omvang van die uitbreking en die maatreëls wat getref moet word om verdere verspreiding te beperk.

Die nasionale landboudepartement het Februarie bevestig bek-en-klouseer kom steeds in KwaZulu-Natal voor. Beeste is by ’n dooptenk in Mtubatuba positief getoets nadat hulle in Desember kliniese tekens van die siekte getoon het. Kliniese tekens van die siekte is ook in distrikte rondom Vryheid en Newcastle waargeneem.

Volgens Cilliers is dit nie net hierdie gebiede wat die gevolge van die siekte voel nie, maar ook dele van Mpumalanga en die Vrystaat. “Die omliggende streke, veral die noordoostelike dele wat aan Natal grens, sal beslis ook geraak word.”

Beheermaatreëls en staatsoptrede

Bek-en-klouseer is ’n staatsbeheerde siekte, wat beteken dat die staatsveearts en die departement van landbou verantwoordelik is vir die implementering van protokolle. Cilliers het egter sy skeptisisme uitgespreek oor die regering se hantering van die situasie. “Op hierdie stadium misluk die staat op elke vlak. Ek sal nie my hoop daarop plaas dat daar voldoende protokolle in plek is nie.”

LEES OOK: Bek-en-klouseer: Oproep tot verskerpte voorsorgmaatreëls in Vrystaat

Invloed op vleispryse

Hoewel ’n uitbreking van bek-en-klouseer dikwels ekonomiese gevolge het, meen Cilliers dat dit nie noodwendig ’n groot impak op vleispryse sal hê nie. “Suid-Afrika het nog altyd bek-en-klouseer gehad. Dit kom veral voor in provinsies soos Limpopo en KwaZulu-Natal, waar verskeie variante van die siekte voorkom. Indien die siekte binne die gevestigde beheerde gebiede bly, behoort dit nie vleispryse dramaties te beïnvloed nie.”

Indien die uitbreking egter buite hierdie gebiede versprei, kan dit tot ’n negatiewe prysneiging lei. “Hoe groter die uitbreking, hoe groter die moontlike impak.”

Verdere verspreiding en voorsorgmaatreëls

Op die vraag of ander dele reeds besmet is, het Cilliers aangedui dat geen verdere uitbrekings amptelik bevestig is nie. “Die inligting tot my beskikking dui daarop dat die uitbreking tans net in KZN voorkom. Maar boere moet proaktief wees en enige tekens van die siekte, soos snotneuse en letsels op die hoewe, onmiddellik rapporteer.”

Om verdere verspreiding te voorkom, moedig Cilliers boere aan om veiligheidsmaatreëls in plek te stel. “Ons het reeds veiligheidshekke in ons omgewing geïnstalleer. Dit dien as ’n protokol om die beweging van diere te beheer en ons boerderygebiede teen moontlike infeksie te beskerm. Hierdie tipe voorsorg is noodsaaklik vir enige boeregemeenskap.”

Hy het ook gewaarsku toekomstige uitbrekings in die Vrystaat kan onvermydelik wees weens ’n gebrek aan beheer oor die beweging van diere tussen provinsies. “Ons het vroeër al besef dat die afwesigheid van streng beheermaatreëls uiteindelik tot ’n uitbreking in die Vrystaat sal lei.”

OFM Agri/Johan Gunter cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.