On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Olebogeng
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Agriculture

TLU SA Jongboerkonferensie beklemtoon moderne boer se denkwyse

───   11:42 Sat, 15 Mar 2025

TLU SA Jongboerkonferensie beklemtoon moderne boer se denkwyse | News Article
Die 2025 TLU SA Jongboerkonferensie het by Future Africa, Universiteit van Pretoria plaasgevind. Foto: TLU SA Jongboere Facebook.

Die 2025 TLU SA Jongboerkonferensie, gehou op 14 Maart by Future Africa, Universiteit van Pretoria, het meer as 120 jongboere byeengebring vir insiggewende besprekings onder die tema: “Die denkwyse van die moderne boer”.

Sprekers soos Wian Süllwald (TLU SA se Jongboer van die Jaar 2024), Jaco Cilliers (van ProAgri), Johann Pretorius (uitvoerende hoof van Farming Portal en Agri News Net), Pieter Kleingeld (van NWK), Phile van Zyl (van ZZ2), Laurika du Bois (van Agri Skills Transfer) en Megaboer George Barnard het hul perspektiewe gedeel oor hoe jongboere met ’n doelgerigte ingesteldheid sukses kan behaal.

Jaco Cilliers het die belangrikheid beklemtoon van deelname aan georganiseerde landbou en TLU SA se strukture. “Boerdery is nie net ’n beroep nie; dis ’n roeping,” het hy gesê en jongboere aangemoedig om aktief by forums, werksessies en komitees betrokke te raak.


Phile van Zyl van ZZ2 het jongboere aangemoedig om alternatiewe markte te oorweeg en innovasie as ’n belangrike faktor in moderne boerdery te sien. Intussen het Johann Pretorius die rol van vroue in die bedryf bespreek, terwyl George Barnard gefokus het op “Denkwyse vir groei” en afgesluit het met Spreuke 4:23: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.”

Volgens Clemens Senekal, voorsitter van die TLU SA Jongboerkomitee, is hierdie konferensie die ideale platform vir jongboere om idees uit te ruil en die toekoms van landbou te vorm. Hy het ook TLU SA se komende geleenthede vir jongboere uitgelig, insluitend die jaarlikse gholfdag vir die TLU SA traumafonds, die TLU SA Kongres, Kragdag, Goliat van Gat Pampoenfees en die Jongboer van die Jaar-kompetisie.

Wian Süllwald, TLU SA se Jongboer van die Jaar 2024, het sy pad na sukses bespreek en jongboere aangemoedig om hul denke op groei en prestasie te rig. Hy is tydens die konferensie as ondervoorsitter van die Jongboerkomitee verkies, terwyl sy vrou, Irmarie Süllwald, as sekretaris aangewys is. Clemens Senekal behou sy posisie as voorsitter van die komitee.

OFM Agri/Verklaring cg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.