On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 The Music Man Mix with The Music Man
Listen Live Streams

Agriculture

Sitrusbedryf staan sterk tydens onseker tye

───   11:04 Sat, 15 Mar 2025

Sitrusbedryf staan sterk tydens onseker tye | News Article
Die uittredende hoof-uitvoerende beampte, Justin Chadwick, en sy opvolger, dr. Boitshoko Ntshabele. Foto: Facebook/CGA

Hoewel die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf uitdagende en onseker tye ervaar, bly die potensiaal vir groei sterk mits marktoegang uitgebrei en logistieke probleme dringend aangespreek word.

Hierdie boodskap is onderstreep tydens die vyfde Sitrusberaad wat 11 - 13 Maart in Gqeberha deur die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika aangebied is.

Die minister van landbou, John Steenhuisen, het die hoofrede gelewer en die bedryf as ’n “ware suksesverhaal” beskryf. “Die sitrusbedryf skep duisende werksgeleenthede in ons landelike gemeenskappe waar dit die nodigste is.”

Hy het egter gewaarsku die moontlike beëindiging van die African Growth and Opportunity Act (Agoa) kan ernstige gevolge vir die bedryf kan inhou. “Ek doen ’n beroep op alle belanghebbendes om die hernuwing van Agoa te prioritiseer of alternatiewe handelsooreenkomste te oorweeg sodat ons uitstekende sitrusprodukte na ons belangrikste markte kan bly uitvoer.” Hy het ook die belangrikheid beklemtoon om nuwe markte in Asië, die Midde-Ooste en Indië te ondersoek.


Dr. Boitshoko Ntshabele, die inkomende uitvoerende hoof van die vereniging, het die bedryf se groeiende potensiaal uitgelig. “Uitgebreide marktoegang is noodsaaklik. Teen 2032 kan die bedryf 100 000 nuwe werksgeleenthede skep deur uitvoer te verhoog van ongeveer 165 miljoen 15kg-kartonne tot 260 miljoen kartonne.”

Logistiek bly ’n kritieke kwessie, en Michelle Phillips, groep-uitvoerende hoof van Transnet, het die beraad ingelig oor vordering met die verbetering van die spoor- en hawestelsels. “Die spoorwegnetwerk is nou oop vir privaat treinoperateurs,” het sy aangekondig, en ook verwys na verhoogde openbaresektordeelname. 

Doeltreffendheid by vyf haweterminale moet verbeter

Sy het die dringendheid van verbeterings beklemtoon: “Hierdie seisoen moet beter verloop as verlede jaar.” Transnet beplan uitgawes van R4 miljard in 2025/26 om die doeltreffendheid by vyf haweterminale te verbeter, na ’n besteding van R3.4 miljard by agt terminale in 2024/2025.

Thomas Eskesen, ’n logistieke kenner, het gewaarsku hawens se ondoeltreffendheid hou ’n beduidende koste in. Hy het aangedui die onlangse studie deur die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP), wat die koste van logistieke probleme op R5.27 miljard per jaar raam, waarskynlik “ernstig onderskat” is.


Eric Imbert, ’n navorsingsleier van die Franse landbou-navorsingsentrum CIRAD, het ’n positiewe siening oor die bedryf uitgespreek. “Suid-Afrika het ’n diversifiseerde mark, innoverende navorsingsvermoëns, ’n groot verskeidenheid kultivars, en ’n sterk bedryfsorganisasie met beduidende kapasiteit.”

Tegnologiese innovasie was ook ’n kernfokus by die beraad. Anya Jaworksi, Besigheidsintelligensie Bestuurder by Safresco, het gedemonstreer hoe kunsmatige intelligensie gebruik kan word om sitrusvoorraad na Europa te monitor. Hierdie tegnologie kan help om seisoenale voorspellings te verbeter en wanbalanse in vraag en aanbod te voorkom.

‘Navigeer die uitdagings saam’

Justin Chadwick, die uittredende uitvoerende hoof van die CGA, het die belangrikheid van samewerking tydens uitdagende tye beklemtoon. “Wanneer tye onseker is, is ’n omvattende beraad wat alle belanghebbendes byeenbring nie net voordelig nie – dit is noodsaaklik. Ons navigeer die uitdagings saam.” Chadwick tree af ná 25 jaar se leiding.

Dr. Ntshabele het afgesluit deur die behoefte aan belyning regdeur die verskaffingsketting te beklemtoon. “Sitrus is Suid-Afrika se grootste landbou-uitvoerbedryf. Dit het die potensiaal om ekonomiese groei en landelike ontwikkeling te dryf. Maar om dit te bereik, moet almal – van die boord tot die hawe en in die raadsaal – saamwerk. Ons sien uit na ’n suksesvolle 2025-seisoen.”

OFM Agri/Verklaring cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.