On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Nuwe GSA-leierskap bou voort op kernwaardes

───   ELZETTE BOUCHER 13:14 Sat, 15 Mar 2025

Nuwe GSA-leierskap bou voort op kernwaardes | News Article
Dr. Tobias Doyer, Danie Minnaar, Richard Krige, Jeremia Mathebula, Derek Mathews, en Nico Vermaak. Foto: OFM.

Die nuwe leierskap van Graan SA, verkies tydens sy kongres op NAMPO Park buite Bothaville, het die organisasie geloof vir sy veerkragtigheid, standvastigheid en doelgerigtheid.

Voorsitter Derek Mathews, wat vroeër sy uittrede aangekondig het, is opgevolg deur Richard Krige, voorheen ’n visevoorsitter. Danie Minnaar is verkies as die nuwe visevoorsitter, terwyl Jeremia Mathebula, die ander visevoorsitter, voortgaan in sy rol.

Krag van Graan SA-gemeenskap

Met sy aanvaarding van die posisie het Krige sy dankbaarheid uitgespreek vir die groei wat hy binne Graan SA ervaar het. “Hierdie organisasie het my gevorm. Ek het as ’n jong produsent begin en nou het ek ’n netwerk van vriende en kollegas regoor die land. Dit is die krag van hierdie gemeenskap.”

Dit is die eerste keer in Graan SA se geskiedenis dat ’n Kaapse koringboer as voorsitter verkies is. Nico Vermaak, maatskappysekretaris, het dit as ’n historiese mylpaal bestempel en ’n huldeblyk gebring aan Krige se voorgangers: Japie Grobler (1999–2000), Boelie Botma (2000–2006), Neels Ferreira (2006–2012), Louw Steytler (2012–2016), Jaco Minnaar (2016–2020) en Derek Mathews (2021–2025).

Visie vir die toekoms

Krige het onderneem om Graan SA se kernwaardes te behou en te versterk. “Ek beplan geen radikale veranderinge nie. Wat ek wel gaan doen, is om my onwrikbare toewyding voort te sit. Ons lede se stem is die belangrikste – ons is hier om hul belange te dien.”

Hy het die belangrikheid van samewerking in die landbousektor beklemtoon. “Of jy nou by TLU, AgriSA of Saai is – ons moet hande vat. Ons moet as ’n verenigde front optree en vir ’n volhoubare, winsgewende landbou-omgewing veg.”

Hy het ook die rol van landbou in Suid-Afrika uitgelig, veral met betrekking tot die Onteieningswet. “Titel is die ruggraat van landbou, en landbou is die ruggraat van ons ekonomie. Ons wil en sal deel wees van ’n proses wat seker maak dat landbou floreer.”

’n Huldeblyk aan Derek Mathews

Krige het Mathews geloof vir sy onwrikbare toewyding en leierskap. “Derek, jou leierskap en manier van bestuur het ’n blywende indruk gelaat. Jy het jou hart op jou mou gedra, en dit het jou as leier gedefinieer.”

Hy het ook beklemtoon hoe Mathews ’n groot rol gespeel het in die bevordering van alle boere se belange. “Jy het altyd die welstand en winsgewendheid van boere bo jou eie belange gestel. Vir dit bewonder ons jou en lig ons ons hoed.”

Mathews het sy diepe waardering vir die organisasie uitgespreek en die belangrikheid van samewerking en verantwoordelikheid in die landboubedryf beklemtoon. “Hierdie organisasie is ons stem. Dis die voertuig wat ons gebruik om ons saak te bevorder en om ons mede-landsburgers te wys wat ons bydrae is. Dit is ook hoe ons mekaar ondersteun.”

Hy het daarop gewys dat dit elke produsent se verantwoordelikheid is om die organisasie te onderhou deur aktiewe deelname, finansiële bydraes en betrokkenheid by besluite wat die toekoms van die bedryf vorm.

Graan SA se kernmissie, die uitbou van volhoubare en winsgewende graanproduksie, is ook as die fondament vir sy voortbestaan bevestig. “Solank as wat ons getrou bly aan hierdie bestaansrede, sal Graan SA altyd bly voortbestaan. Die boere van hierdie land het hul stem aan julle toevertrou. Julle moet dit koester en dit respekteer. Wees verseker, hulle sal julle tot verantwoording roep.”

Mathews het verder sy opgewondenheid uitgespreek oor die toename in jong leierskap binne die organisasie. “Ek weet nie of julle agtergekom het hoeveel jong mense vandag by die raad aansluit nie. Dit is vir my besonder opwindend, en dit wys dat ons toekoms helder en blink is.  Baie, baie dankie vir die voorreg wat ek gehad het. Ek salueer julle.”

Dr. Tobias Doyer, HUB van Graan SA, het Mathews geloof vir sy leierskap, vriendskap en menswees. “Niemand is onvervangbaar nie, maar Graan SA sal beslis anders wees sonder jou. Ons gaan jou ‘hard’ mis. Baie dankie en sterkte vir die nuwe span.”

‘Dis hoekom ons dit doen’

Danie Minnaar, die nuutverkose visevoorsitter, het sy motivering uitgespreek vir sy betrokkenheid. “Iemand het my gevra: Hoekom doen jy dit? Hoekom staan jy as visevoorsitter? Die antwoord is eenvoudig: Ek is lief vir die saak. Ek is lief vir landbou.”

Hy het sy toewyding uitgespreek om ’n volhoubare toekoms vir boere en hul kinders te help verseker. “Ek wil hê my kinders moet oor tien of twintig jaar hier sit en sê: Ons pa’s het hierdie organisasie opgebou. Ons moet landbou nie net onderhou nie, maar versterk en uitbrei.”

Minnaar het ook die belangrikheid van ’n verenigde en funksionele organisasie beklemtoon en sy vertroue in sy span uitgespreek. “Ons het ’n toegewyde span – Richard, Jeremia, Tobias en ons personeel. Saam sal ons landbou in Suid-Afrika versterk.”

OFM Agri cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.