On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

International

Rusland, Amerika vergader in Midde-Ooste

───   09:17 Tue, 18 Feb 2025

Rusland, Amerika vergader in Midde-Ooste | News Article
Die Russiese afvaardiging onder leiding van Sergei Lawrof, die minister van buitelandse sake, kom in Riaad aan. Foto: X

Rusland en Amerika sal moontlik Dinsdag (18/2) die beëindiging van die oorlog tussen Oekraïne en Rusland bespreek, maar geen Europese land óf Oekraïne is na die vergadering genooi nie.

Verteenwoordigers van Amerika en Rusland vergader Dinsdagoggend (18/2) in Saoedi-Arabië se hoofstad, Riaad, om volgens hulle verbrokkelde betrekkinge te herstel.

Die BBC berig dit sal die eerste aangesig-tot-aangesig ontmoeting wees tussen dié twee lande sedert Moskou se volskaalse inval in Oekraïne in Februarie 2022.

Amerikaanse amptenare het beklemtoon dat die samesprekings met Rusland nie onderhandelinge is nie, maar ’n stap om te bepaal of Rusland “ernstig” is om die oorlog in Oekraïne te beëindig, berig die BBC

Rusland beskou die vergadering as ’n poging om Amerikaanse betrekkinge te normaliseer. Boonop is gesprekke daarop gemik om ’n toekomstige ontmoeting tussen Donald Trump en Wladimir Poetin in Riaad te reël, na aanleiding van hul onlangse gesprek.

Die Amerikaanse onderhandelingspan sluit Marco Rubio, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Mike Waltz, Trump se nasionale veiligheidsadviseur en Steve Witkoff, die Withuis se Midde-Oosterse gesant, in. Die Russiese afvaardiging sluit Sergei Lawrof, die minister van buitelandse sake, en Joeri Oesjakof, die Kremlin se buitelandse beleidsadviseur, in. Lawrof en Oesjakof is hoogs ervare diplomate.

Intussen het Europese leiers in Parys vergader vir samesprekings oor Oekraïne nadat die VSA en Rusland hul vergadering aangekondig het, asook om Donald Trump, die Amerikaanse president, se beleidsverskuiwing oor Oekraïne aan te spreek. 

Frankryk en Brittanje het gepleit vir veiligheidswaarborge, terwyl Duitsland teen die ontplooiing van soldate ná ’n vredesooreenkoms gekant was. Te midde van kommer dat Trump Europa van vredesgesprekke kan uitsluit, het leiers maatreëls bespreek soos verhoogde verdedigingsbesteding, veiligheidswaarborge vir Oekraïne en vredesmagte. 

Emmanuel Macron het in aanloop tot die vergadering met Trump en Wolodimir Zelenski, Oekraïne se president, gepraat en sterk waarborge vir Oekraïne se veiligheid beklemtoon. Sir Keir Starmer, die Britse Eerste minister, het Britse magte se betrokkenheid ondersteun, maar aangedring op Amerikaanse deelname. 

Europese leiers het Maandag (17/2) in Parys vergader, onder meer oor kommer dat president Trump Europa van vredesgesprekke kan uitsluit. Foto: X

Olaf Scholz, die Duitse kanselier, het gesprekke oor vredesmagte voortydig geag. Geen groot aankondigings is gemaak nie, met leiers wat ’n nuwe fase in transatlantiese betrekkinge en Navo se rol erken het.

Ná ’n verrassende beleidsverskuiwing oor die Oekraïne-oorlog onder Trump, het Zelenski  – in ’n onderhoud wat Maandag (17/2) uitgesaai is – die VSA daarvan beskuldig dat hulle na Moskou se pype probeer dans. 

“Die VSA maak nou stellings wat baie gunstig is vir Poetin … omdat hulle hom wil paai,” het Zelenski aan die ARD-uitsaaier gesê. 

Zelenski het die VSA gewaarsku daarteen om ooreenkomste met Rusland “agter ons rug” aan te gaan en Europa aangemoedig om verantwoordelikheid vir sy eie veiligheid te aanvaar, insluitend die moontlikheid van ’n kontinentale weermag.

Zelenski het tydens die München-veiligheidskonferensie beklemtoon dat “geen besluite oor Oekraïne sonder Oekraïne” en ook “geen besluite oor Europa sonder Europa nie” geduld sal word nie. Sy opmerkings het gevolg ná ’n vergadering met JD Vance, die Amerikaanse adjunkpresident, aangesien Oekraïne dit probeer vermy om opsygeskuif te word in moontlike onderhandelinge.

Rusland het opnuut beklemtoon dat die samesprekings “streng bilateraal” is met geen Oekraïniese of Europese teenwoordigheid nie. Die samesprekings sal waarskynlik ook ’n moontlike toekomstige ontmoeting tussen Trump en Poetin in Saoedi-Arabië reël.

OFM Nuus cg/mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.