Agriculture
Vrystaat Landbou verwelkom Trump se steun aan landbousektor─── 13:00 Sun, 09 Feb 2025
![Vrystaat Landbou verwelkom Trump se steun aan landbousektor Vrystaat Landbou verwelkom Trump se steun aan landbousektor | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/cf7b9f4a-a4cd-4fb7-b5a1-be25e0a55436.jpg?crop=0,18,800,468)
Vrystaat Landbou het vandeesweek die ondersteuning wat die Amerikaanse president Donald Trump aan die Suid-Afrikaanse landbousektor belowe het, verwelkom.
Volgens Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, is die organisasie bemoedig dat die Amerikaanse regering die pleidooie van Suid-Afrikaanse boere gehoor het en erken dat boere se veiligheid en eiendomsreg deur die ANC-regering bedreig word.
“Vrystaat Landbou staan gereed en wag af om te sien hoe Suid-Afrika se boere en die VSA ’n opbouende pad saam kan stap om ons eie, en Suid Afrika, se toekoms te verseker.”
Die organisasie het in ’n verklaring op hulle Facebookblad laat weet die bewering dat president Trump en sekretaris Rubio ‘onwaarhede verkondig het oor die konfiskering van private eiendom in Suid-Afrika’, is self verkeerd.
“Hoewel konfiskasie uiteindelik mag lei tot werklike onteiening, begin die proses met beleidstellings en wetgewing wat gevestigde eiendomsregte verswak of ondermyn,” vertel Wilken wat verder beklemtoon die nuwe Onteieningswet maak dit wel moontlik vir staatsliggame om grond en ander bates sonder markverwante vergoeding te onteien.
“Daarom is die terminologie wat Trump en Rubio gebruik het akkuraat, selfs al is spesifieke stukke grond nog nie onteien nie.”
Hy sê as landbou-organisasie is Vrystaat Landbou gereed om enige hulp en ondersteuning vir die landbousektor en boere te aanvaar.” Veral wanneer hulp van die Verenigde State en president Donald Trump aangebied word, behoort ons dit te verwelkom.”
Wekroep vir regering
Verder is die organisasie ook bereid om plaaslik met enige individu of organisasie saam te werk om boere se veiligheid, eiendomsregte en toekoms te verseker.”
Wilken meen President Trump se aankondiging dat boere en Afrikaners voortaan as vlugtelinge in die VSA sal kwalifiseer, dien as ’n wekroep vir die regering, landbou-organisasies en alle gemeenskappe in Suid-Afrika.
‘Regering se belofte eenvoudig ongeloofwaardig’
“Plaasmoorde en landelike veiligheid is al vir meer as 30 jaar ’n werklikheid, en tog het geen van die pogings om die ANC-regering tot aksie te dwing, blywende resultate opgelewer nie. Boere bly weerloos teen misdadigers wat al dekades lank hul vee steel en groot dele van hul oeste plunder, terwyl die polisie nie daarin slaag om effektief in te gryp nie.”
Hy sluit af deur te noem hoewel grond nog nie deur die staat gekonfiskeer is nie, stel die Onteieningswet die regering in staat om op enige eiendom – insluitend grond, geld, huise, voertuie en meer – beslag te lê.
“Daarom is die regering se belofte dat bates nie gekonfiskeer sal word nie, eenvoudig ongeloofwaardig.”
OFM Agri cg