On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Anny
Listen Live Streams

International

‘Deur God gered’ – Trump op inhuldiging

───   15:41 Tue, 21 Jan 2025

‘Deur God gered’ – Trump op inhuldiging | News Article
Kritici is ontsteld omdat Trump nie sy hand op Die Bybel geplaas het terwyl hy die eed afgelê het nie. Foto: Facebook

Soos wat Amerikaners die eerste volle dag van die nuwe Trump-administrasie begin, moet hulle ’n vlaag uitvoerende bevele verwerk wat onderteken is binne ure nadat pres. Donald Trump Maandag (20/1) die ampseed afgelê het.

Trump het Dinsdag die dag as die 47ste president van Amerika ná ’n weelderige inhuldiging en vieringe begin.

Die president het die eerste paar uur terug in die Withuis deurgebring en uitvoerende bevele en presidensiële kwytskeldings uitgereik. Hy het daarop gekonsentreer om verskeie veldtogbeloftes na te kom en die pas aan te gee vir sy tweede administrasie. 

Oor die algemeen is sy eerste dag gekenmerk deur ’n sterk klem op die verandering van die rigting van Amerikaanse beleid en bestuur.

President Donald Trump het dadelik aan die werk gespring en 78 uitvoerende bevele onderteken. Foto: Sky News

Hy het begin deur 78 uitvoerende bevele wat deur sy voorganger Joe Biden goedgekeur is, te herroep, insluitend pogings deur die Demokrate om kweekhuisgasvrystellings te beperk, deelstate teen olie-ontginning te beskerm en die koste van voorskrifmedikasie te verminder.

Die nuwe Republikeinse president het politieke gevaarligte in verskeie buitelandse hoofstede laat flikker met sy buitelandse beleidshervorming. Hy het Amerika onmiddellik weggedraai van internasionalisme, wat voorheen deur elke ander president sedert die Tweede Wêreldoorlog aangegryp is.

Op ’n nuuskonferensie het Trump sy eie boodskap gedryf deur geopolitieke skaakstukke rond te skuif. Die beeld wat voorgehou is, was dié van ’n goed ingeligte nuwe president wat groot doelwitte in die oog het, vol vertroue dat sy eerste termyn hom ’n voorsprong gee oor hoe om die hefbome van mag te gebruik en vasbeslote om die meeste van ’n tweede kans te maak.

Van sy eerste skuiwe was ’n bevel wat miljoene “misdadige buitelanders” sal deporteer. Immigrasie was ’n warm onderwerp tydens sy veldtog. Trump het ’n noodtoestand op die grens met Mexiko verklaar en beveel dat dwelmkartelle as terreurorganisasies bestempel moet word. 

“Ek sal soldate na die suidelike grens stuur om die rampspoedige inval van ons land af te weer,” het hy gesê.

Hy het ook ’n bevel onderteken wat geslag aanspreek en verklaar dat daar net twee geslagte is – manlik en vroulik – en dit kan nie verander word nie. “Dit sal voortaan die amptelike beleid van die Amerikaanse regering wees dat daar net twee geslagte is: manlik en vroulik,” het Trump onder applous aan sy gehoor gesê.

Trump het byna 1 600 beskuldigdes begenadig wat betrokke was by die aanval op 6 Januarie 2021 by Capitol Hill. Sommige sal na verwagting selfs later Dinsdag uit die tronk vrygelaat word.

Die pas ingehuldigde president het ook die land se doelwit van elektriese voertuie herroep, wat massiewe onsekerheid vir die motorbedryf sal meebring.

Op die wêreldfront het Trump beveel dat Amerika hom aan die Parys-klimaatooreenkoms en die Wêreldgesondheidsorganisasie sal onttrek.

Sy inhuldigingstoespraak het optimisties begin, gevolg deur ’n iesegrimmige beoordeling van Amerika. “Die goue era van Amerika begin nou,” het Trump losgetrek. Hy het later egter die uittredende administrasie as ’n “radikale en korrupte instelling” beskryf.

‘Deur God gered’

“Net ’n paar maande gelede, in ’n pragtige veld in Pennsilvanië, het ’n sluipmoordenaar se koeël deur my oor geruk, maar ek het toe gevoel en glo nou nog meer dat my lewe vir ’n rede gespaar is,” het hy gesê. “Ek is deur God gered om Amerika weer wonderlik te maak.”

USA Today het sommige van die bevele uiteengesit en opgesom:

  • Migrasie: In een van sy eerste optredes het die nuwe administrasie ’n selfoon-app afgeskakel waarmee migrante afsprake kan reël om die land by ’n grenspos binne te kom. Migrante met sodanige afsprake se hoop is ná Trump se inhuldiging verpletter.
  • Geslag: Trump het verklaar dat die federale regering slegs twee geslagte erken: manlik en vroulik. Dit is ’n stap wat beskerming vir transgender mense, wat tydens die Biden-administrasie ingestel is, omkeer.
  • 6 Januarie: Trump het ongeveer 1 600 mense begenadig wat aangekla is in die Capitol Hill-aanval op 6 Januarie 2021 – ’n veldtogbelofte wat hy nagekom het.
  • Klimaat: Trump het die “elektriese voertuigmandaat” uitgeskakel en Amerika aan die klimaatooreenkoms van Parys te onttrek deur sy langbeloofde “drill, baby, drill”-agenda om Amerikaanse fossielbrandstowwe uit te voer.
  • Wêreldgesondheid: Trump het Amerika beveel om die Wêreldgesondheidsorganisasie te verlaat – kenners maan dis ’n gevaarlike stap.
  • TikTok: Trump se uitvoerende bevel wil die afdwinging van ’n verbod op TikTok in die VSA vir 75 dae stop. 
  • “Golf van Amerika”: Trump het die hernoeming van die Golf van Mexiko op amptelike kaarte en regdeur die federale regering beveel.

Die boodskap was: Nou begin die regte werk. Die Trump-administrasie neem vorm aan. Uitvoerende bevele vlieg. Republikeinse wetgewers werk daaraan om Trump se agenda te bevorder te midde van papierdun meerderhede in albei huise van die Kongres.

Tegniese broers in die Huis

Elon Musk was voor die nuwe president by die Withuis. Die X- en SpaceX-eienaar, wat massiewe federale kontrakte het, het al opgedaag terwyl Trump nog sy inhuldigingsparade gadegeslaan het. 

Musk is gereed om aan die werk te spring by die nuwe departement van owerheidsdoeltreffendheid, wat pas gestig is.

Vroeër Maandag het Musk, Amazon-stigter Jeff Bezos, Apple se uitvoerende hoof, Tim Cook, Google se uitvoerende hoof, Sundar Pichai, en Meta-stigter Mark Zuckerberg saam met Trump by ’n pre-inhuldigingsdiens verskyn en prominente plekke tydens die inhuldiging ingeneem.

Dit was ’n verstommende manifestasie van die verskuiwing deur Silicon Valley-konings weg van Demokrate en na Trump. Die president het later aangevoer dat dit sin maak om sulke pioniers te laat werk vir Amerikaanse belange in ’n hoogs mededingende wêreld.

Hul teenwoordigheid bring egter enorme potensiële belangebotsings mee. En talle meen dié bestuurders beheer effektief inligtingsbronne vir miljoene Amerikaners, wat nou aangespoor kan word om dit te vorm om Trump te behaag.

Een ding wat Trump nie dadelik gedoen het nie, was om strawwe nuwe buitelandse tariewe op handelsvennote te hef – miskien om aandelemarkte te spaar. Hy het later aangedui dat hy op 1 Februarie 25%-tariewe op Mexiko en Kanada sal instel, wat die vooruitsig van ’n kontinentale handelsoorlog verhoog.

Hy het nie ’n datum vir sy beloofde tariewe op China gegee nie, maar hy het bevestig het dat hy genooi is om Beijing te besoek. Dit dui daarop dat Trump die spreekwoordelike stok van nuwe tariewe soek as ’n onderhandelingsinstrument voor enige reis.

Trump het ook herhaaldelik volgens die CNN valslik beweer dat tariewe massiewe finansiële gewin vir Amerika sou oplewer, terwyl die koste daarvan grootliks deur Amerikaanse verbruikers gedra sou word. 

Die moontlikheid dat tariewe tot inflasionêre druk kan lei en die koste van basiese voedsel, verblyf en petrol kan verhoog, kan Trump ook die blaaskans gee waarna hy dalk soek. Want as hy nie hierdie basiese kwessies kan aanspreek nie – wat sy 2024-verkiesingstriomf aangedryf het – kan al die aggressie en presidensiële magsvertoon wat hy Maandag uitgeoefen het, ’n gejaag na wind wees, berig CNN.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.