Agriculture
Reaksie op Staatsrede 2025: Implementering van beloftes nou broodnodig─── ELZETTE BOUCHER 07:08 Fri, 07 Feb 2025
Die begrotingsrede later vandeesmaand sal ’n deurslaggewende rol speel in die praktiese uitvoer van die staatsrede se beloftes.
Wye reaksie is ontvang op President Cyril Ramaphosa se toespraak in die stadsaal in Kaapstad Donderdagaand (6/2).
FNB Landbou: Realisties, gebalanseerd, maar implementering nodig
Dawie Maree, landbou-ekonoom en hoof van Inligting en Bemarking by FNB Landbou, meen dit was ’n gebalanseerde staatsrede wat realisties erken het dat Suid-Afrika steeds groot uitdagings in die gesig staar.
Een van die kernpunte in die staatsrede was die verwysing na Eskom en beurtkrag. Ramaphosa het beklemtoon dat die kragprobleem vir ’n tydperk gestabiliseer is, wat ’n positiewe boodskap vir die ekonomie stuur. Maree het ook die president se erkenning van waterkrisisse geprys, aangesien daar R33 miljard bewillig is vir grootskaalse waterprojekte. Die sukses daarvan sal egter afhang van effektiewe implementering.
In die landbousektor het die president kortliks verwys na die verbouing van hemp en dagga as ’n ekonomiese geleentheid vir gemeenskappe. Maree het egter opgemerk dat hierdie inisiatief al voorheen genoem is, maar dat werklike implementering steeds uitstaande is.
Ten slotte het hy gesê dat die staatsrede gepas was vir ’n regering van nasionale eenheid, maar dat die ware toets in die implementering van die planne lê. “The proof is in the pudding,” het hy opgemerk, en beklemtoon dat daar nou daadwerklik opgetree moet word om werklike verandering teweeg te bring.
Agbiz: Fokus is die sleutel in die aangesig van wêreldwye onsekerheid
In die lig van toenemende globale onstabiliteit, moet Suid-Afrika alles in sy vermoë doen om die mededingendheid van ons ekonomie te versterk. Só meen Sean Walsh, voorsitter van landbousakekamer, Agbiz. Hy meen die openingsinne van die president se staatsrede het die omvang van die uitdagings wat ons in die gesig staar, beklemtoon. “Handelsproteksionisme, klimaatsverandering en globale konflik maak dit noodsaaklik dat die regering privaat sektormaatskappye ’n gelyke vlak gee om mee te ding.”
Theo Boshoff, uitvoerende hoof van Agbiz, het die belangrikheid van strukturele hervormings en ’n goed gedefinieerde raamwerk vir openbare-private vennootskappe uitgelig. “Ons sien reeds die voordele van hierdie pogings in die energiesektor en moet die koers volhou sodat ons logistieke raamwerk omgedraai kan word.”
TLU SA: Leë woorde of werklike verandering?
Ná 30 jaar van ANC-bewind is die vraag nie meer wat in die staatsrede gesê word nie, maar watter werklike verandering plaasvind. Volgens Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, bly Suid-Afrika vasgevang in beleidsonsekerheid en ekonomiese stagnasie. “Kaderontplooiing, korrupsie en rasgedrewe diskriminasie ondermyn enige pogings tot groei. Die regering moet ophou om beleidsrigtings te volg wat die land skade berokken.”
VF Plus: Ramaphosa stel ANC eerste, nie Suid-Afrika nie
Dr. Corné Mulder, VF Plus-LP en parlementêre leier, meen die staatsrede het nie die regering van nasionale eenheid regtig bevorder nie. “Ramaphosa het dit duidelik gemaak dat die ANC steeds sy prioriteit is. Die goedkeuring van kontroversiële wette soos die Onteieningswet en Wet op Nasionale Gesondheidsversekering dui op ’n voortsetting van beleid wat ekonomiese groei belemmer.”
Hoewel enkele positiewe verwysings gemaak is, is die gebrek aan daadwerklike implementering steeds ’n groot bekommernis vir verskeie sektore. Die vraag bly of hierdie staatsrede werklik verandering gaan bring, of net nog ’n lys van leë beloftes was.
OFM Agri cg