On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Staatsrede 2025: Ramaphosa beloof herbouing vanaf voetsoolvlak

───   ELZETTE BOUCHER 20:06 Thu, 06 Feb 2025

Staatsrede 2025: Ramaphosa beloof herbouing vanaf voetsoolvlak | News Article
President Cyril Ramaphosa tydens die staatsrede. Foto: Facebook

Planne om Suid-Afrika vanaf voetsoolvlak te herbou is onder meer deur President Cyril Ramaphosa tydens sy staatsrede in die stadsaal in Kaapstad uiteengesit.

Die president het beloof landelike gebiede, wat veral onder swak munisipale dienslewering en verbrokkelende infrastruktuur gebuk gaan, sal aandag kry.

Nuwe mediumtermyn-ontwikkelingsplan

Die regering het ’n vyfjaar-ontwikkelingsplan aanvaar wat fokus op drie strategiese prioriteite:

  1. Inklusiewe ekonomiese groei en werkskepping
  2. Armoedeverligting en koste-vermindering
  3. Die bou van ’n doeltreffende, etiese en ontwikkelingsgerigte staat

Ramaphosa het die dringendheid van ekonomiese groei beklemtoon en gesê dit is noodsaaklik vir werkskepping en die verbetering van lewensgehalte. “Ons benodig ’n staat wat doeltreffend en bekwaam is, met professionele staatsamptenare wat hul pligte met toewyding en etiek uitvoer.”

Verbetering van plaaslike regering

Die president het erken dat swak infrastruktuur, gebrekkige dienste en korrupsie plaaslike regering lamlê. “Baie munisipaliteite het nie die tegniese vaardighede en hulpbronne om basiese dienste soos water, elektrisiteit en vullisverwydering te lewer nie.”

Om hierdie uitdagings aan te spreek, het die regering planne om:

  • Professioneel bestuurde diensverskaffers vir water en elektrisiteit te skep
  • Die plaaslike regeringsisteem te hervorm deur ’n nuwe beleidsraamwerk
  • Die befondsingsmodel vir munisipaliteite te hersien om finansiële volhoubaarheid te verseker

Infrastruktuur kry aandag

“Die regering het reeds ’n raamwerk geskep om R100 miljard in infrastruktuurfinansiering te ontsluit. Meer as R940 miljard sal oor die volgende drie jaar aan infrastruktuurprojekte bestee word, insluitend R375 miljard deur staatsbeheerde ondernemings. Hierdie fondse sal gebruik word om paaie, brûe, damme, hawens en lughawens te moderniseer.”

Een van die merkwaardigste projekte is die Mtentu-brug in die Oos-Kaap, wat die hoogste brug in Afrika sal wees. Daarbenewens sal die Polihali-dam in Lesotho jaarliks 490 miljoen kubieke liter water in die Vaalrivierstelsel voer, wat watersekerheid vir verskeie provinsies sal verbeter.

Benewens infrastruktuur, is daar ’n omvattende strategie om spoorvervoer te verbeter. Die regering beplan om die spoorwegnetwerk oop te stel vir private operateurs terwyl die infrastruktuur in staatsbesit bly. Hierdie hervorming sal die vervoer van minerale, vervaardigde voertuie en landbouprodukte na internasionale markte versnel en werksekerheid verseker.

In ’n poging om doeltreffendheid in hawens te verhoog, word nuwe hyskraan- en hawe-toerusting in gebruik geneem om die aflaai- en laaiprosesse van vrag te bespoedig. Dit sal die wagtye vir skepe in Suid-Afrikaanse hawens verkort en internasionale handel verbeter.

Watersekuriteit is nog ’n prioriteit vir die regering. Baie gemeenskappe ervaar gereelde watertekorte weens vervalle infrastruktuur. Die regering het reeds R23 miljard vir sewe groot waterprojekte verseker en ’n nasionale agentskap vir waterhulpbronne is in die proses van oprigting om verdere beleggings te ontsluit. Projekte soos fase 2 van die Lesotho Hooglandwaterprojek en die Nkomazi-dam is geheraktiveer en voorbereidings vir die konstruksie van die Ndabelanga-dam in die Oos-Kaap is aan die gang.

Hervorming van staatsbeheerde ondernemings

Die voorsiening van deurlopende kragtoevoer is ook aangespreek. “Die regering het sy verbintenis herbevestig om Eskom, Transnet en ander noodsaaklike SBO’s te hervorm sodat hulle wêreldklas-dienste kan lewer. Dit sluit in die skepping van ’n hervormingseenheid om die doeltreffendheid van hierdie instellings te verbeter en privaatbeleggings aan te moedig.”

In ’n poging om klimaatsverandering aan te spreek, het Suid-Afrika meer as $13 miljard Amerikaanse dollar van internasionale vennote ontvang om ’n regverdige energie-oorgang te ondersteun. Privaat kapitaal vloei ook na hernubare energieprojekte, wat help om die land se koolstofvrystellings te verminder. “Ons is op ’n positiewe trajek en ons sal voortgaan om oplossings te implementeer wat alle burgers bevoordeel.

“Suid-Afrika streef daarna om ’n wêreldleier te word in groen vervaardiging en hernubare energie.” Ramaphosa het benadruk dat die land se oorvloedige son- en windhulpbronne benut sal word om volhoubare nywerhede te skep en duisende nuwe werksgeleenthede te skep. “Die regering finaliseer tans ’n moderne industriële beleid wat digitalisering, diversifikasie en die vermindering van koolstofvrystellings insluit.”

Die implementering van die Afrika-Vryhandelsgebied sal verdere ekonomiese groei stimuleer en Suid-Afrika in 'n sleutelposisie plaas om voordeel uit hierdie nuwe mark te trek.

’n Ambisieuse ekonomiese groeiteiken van 3% is gestel.

Nuwe geleenthede vir landbou

Die regering beoog om die landbousektor te versterk deur boere te ondersteun, logistieke netwerke te verbeter en nuwe uitvoermarkte te ontsluit. ’n Fokus word geplaas op die kommersiële produksie van hennep en dagga, ’n gewas wat tradisioneel in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal verbou word.

President Ramaphosa het benadruk dat inklusiewe groei, ekonomiese bemagtiging en infrastruktuurontwikkeling die kern van die regering se beleidsrigting vir die volgende vyf jaar vorm. “Deur vennootskappe tussen die regering, sakegemeenskap en burgers te versterk, kan ons ’n volhoubare toekoms vir alle Suid-Afrikaners skep.”

OFM Agri cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.